Nuus 08:00
BULLETIN 30 Maart 2026 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gee ministers opdrag om maniere te vind om die uitwerking van die brandstofprysstygings te verminder
# Senzo Mchunu het sy pligte as ‘n ANC NUK-lid hervat
# En Trump sê hy oorweeg dit om Iran se belangrikste brandstofsentrum, Kharg-eiland, te beset
# President Cyril Ramaphosa het kommer uitgespreek oor die dreigende brandstofprysstygings. Volgens die jongste data van die Sentrale Energiefonds gaan die petrolprys met meer as vyf-rand per liter styg en die dieselprys met meer as nege-rand. Ramaphosa het gister by die ANC in Limpopo se verkiesingskonferensie gesê hy het die betrokke ministers gevra vir voorstelle oor maniere om die stygings se uitwerking op Suid-Afrikaners te versag:
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het sy pligte as lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee hervat en daarmee weer sy plek in een van die ANC se belangrikste besluitnemende liggame opgeneem. Hy word by die Madlanga-kommissie en die parlement se ad hoc-komitee betrek wat bewerings van inmenging by polisiebedrywighede en korrupsie ondersoek, insluitend bande met die sakeman Vusumusi ‘Cat’ Matlala. Mchunu het die kommissaris van die Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, versoek vir bewyse vir sy bewerings van misdadigheid teen hom:
# Die minderheidspartye het die uitslag van die onlangse Hooggeregshof-uitspraak in die saak tussen die DA en die Stad Johannesburg verwelkom. Woordvoerder Yogama Zigegde sê die dringende aansoek om die instelling van die Politieke Fasiliteringsooreenkoms te stop, is van die rol geskrap weens ‘n gebrek aan dringendheid. Hy sê werkers het jare lank die las van ongelyke betaalstrukture gedra, ten spyte daarvan dat hulle soortgelyke funksies onder dieselfde munisipale sambreel verrig. Hy voeg by die uitspraak beskerm die integriteit van die struggle.
# President Donald Trump van Amerika sê hy oorweeg steeds om Iran se Kharg-eiland, ‘n belangrike brandstofsentrum in die noorde van die Persiese golf, in te neem. Die eiland hanteer 90-persent van Teheran se olie-uitvoer. Trump se opmerkings volg nadat nog drie-duisend-500 Amerikaanse soldate die naweek in die Midde-Ooste aangekom het. Hy het aan die Financial Times gesê Amerikaanse soldate kan die Kharg-eiland maklik inneem omdat Iran geen verdediging daar het nie. Hy sê onregstreekse onderhandelinge tussen Amerika en Iran deur Pakistan vorder goed.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die Miami Ope gewen en die eerste keer in sy loopbaan ʼn Sonskyn-dubbel behaal. Dit beteken hy het in dieselfde jaar by Indian Wells en Miami koning gekraai. Die Italianer het die Tsjeg, Jiri Lehecka, verslaan en die eerste man geword wat ʼn Sonskyn-dubbel voltooi sedert Roger Federer dit in 2017 reggekry het, en die agste man ooit wat die prestasie behaal. Sinner sê dit beteken vir hom baie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-122-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-515-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….