Nuus 11:00
BULLETIN 29 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die ANC sal nie swartbemagtiging afskaf nie
# Korrektiewe Dienste veroordeel die onregmatige telefoniese onderhoud tussen oortreder Jermaine Prim en eNCA
# En tennis, Aryna Sabalenka word gekroon as Miami Ope se 2026-vrouekampioen
# ANC-president Cyril Ramaphosa het herhaal dat die party nie sy beleid oor swart ekonomiese bemagtiging sal skrap nie, ten spyte van toenemende eise van sommige politieke partye dat hy dit doen. Hy het die ANC in Mpumalanga se verkiesingskonferensie in Mbombela toegespreek. Ramaphosa sê die beleid is ‘n kritiese, grondwetlike manier om geskiedkundige ekonomiese ongelykheid aan te spreek en sê hy sal dit verfyn en verskerp eerder as skrap:
# Die UDM-leier Bantu Holomisa sê die party sal sy kandidate wat gemeenskappe ná die munisipale verkiesing moet dien, strategies en met oorleg aanwys. Holomisa het die Oos-Kaapse UDM-verkiesingskonferensie in Mthatha toegespreek. Hy sê die UDM is gelukkig om baie talent in die party te hê. Dit sluit jongmense, gegradueerdes, oudstudente van tegniese kolleges, en mense met rekeningkundige of gespesialiseerde vaardighede in. Hy sê elke UDM-raadslid moet besef hulle rol is om die hele gemeenskap, ongeag politieke affiliasie, te dien.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het ʼn telefoniese onderhoud tussen eNCA en ʼn hoëprofiel-gevangene, Jermaine Prim by die Johannesburgse tronk veroordeel. Prim staan tereg op aanklagte van korrupsie en word met misdaadsindikate verbind. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê ʼn volskaalse ondersoek is aan die gang om vas te stel hoe dit kon gebeur. Hy sê die onderhoud wat sonder goedkeuring van die nasionale kommissaris, Makgothi Thobakgale, plaasgevind het, is ʼn duidelike oortreding van die Standaard Bedryfsprosedures:
# Die DA het ná sy streekkongres sy nuwe leierskap in die Stad Johannesburg aangekondig. Luyolo Mphithi is die nuwe streeksvoorsitter en Nonhlanhla Sifumba is as ondervoorsitter verkies. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê die leiers wat by die kongres verkies is, sal nóύ saam met haar werk terwyl die party poog om in die munisipale verkiesing ʼn volstrekte meerderheid behaal om Johannesburg reg te ruk:
# Groot betogings teen die Trump-regering kom in Amerikaanse stede voor in die derde reeks “No Kings”-saamtrekke. Die saamtrekke het voorheen glo skares van miljoene gelok. Die organiseerders sê hulle betoog teen president Donald Trump se beleide, insluitend die oorlog in Iran, die federale optrede teen immigrasie en stygende lewenskoste. Skares het gistermiddag in die stadskern van Washington DC betoog. Hulle het op die trappies van die Lincoln-gedenkteken saamgedrom en die National Mall volgepak.
# Tennis: Aryna Sabalenka is in Florida gekroon as die Miami Open se 2026-vrouekampioen ná ʼn swaarverdiende oorwinning oor die gunsteling, Coco Gauff. Met hierdie sege het die wêreld-nommer-een haar titel suksesvol verdedig en slegs die vyfde vrou geword wat met die gesogte “Sunshine Double” spog. In die mansafdeling kom die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, vandag in die eindstryd te staan teen die 21-gekeurde Jiri Lehecka. Sinner, wat Alexander Zverev in die halfeindronde verslaan het, het ook sy oog op ʼn “Sunshine Double”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….