Nuus 07:00
BULLETIN 28 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile doen ‘n beroep op sterker handelsbande met China
# Raymond Parsons sê ‘n drievoudige prysskok kan ekonomiese herstel onderbreek
# En sokker: Bafana en Panama speel gelykop in hul eerste internasionale vriendskaplike wedstryd
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ‘n beroep gedoen op sterker ekonomiese samewerking tussen Suid-Afrika en China met verhoogde beleggings in sleutelsektore om industrialisering, werkskepping en volhoubare groei te ondersteun. Hy het die Suid-Afrika-China Ekonomiese en Handelsforum in Kaapstad toegespreek. Mashatile sê China is steeds Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, met handel wat met 6,4-persent toegeneem het van 650-miljard-rand in 2024 tot bykans 690-miljard-rand in 2025:
# Die ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte is onder toenemende druk, met inflasierisiko’s wat nou na die opwaartse kant neig. Parsons sê dit beteken rentekoerse sal waarskynlik langer hoër bly, met beleidmakers wat versigtig bly te midde van wêreldwye onsekerheid en stygende energiekoste. Hy waarsku die gekombineerde impak van hoër brandstofpryse, belasting en elektrisiteitstariewe van volgende maand af swaar op huishoudings en besighede kan weeg.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is woedend nadat die ouditeur-generaal se bevindinge groot onreëlmatighede by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aan die lig gebring het. Volgens die vakbond betaal die skema steeds beurse aan meer as 800 studente wat dood is, terwyl duisende studente wat nie in aanmerking kom nie, insluitend dié met hoër inkomste of swak akademiese rekords, steeds befondsing ontvang. Claude Naiker van die vakbond eis ‘n volledige oudit, die terugvordering van fondse, die skorsing van diegene wat verantwoordelik is, en strenger finansiële beheermaatreëls.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hulle het ‘n mislukte rioolprojek van 39-miljoen-rand in Pomona in Kempton Park ontdek, waar geen werkende pypleiding gelewer is nie ten spyte van jare se befondsing en ingryping. Hulle sê inwoners van Ekurhuleni leef steeds saam met rou riool wat huise oorstroom en nabygeleë vleilande besoedel. Rudie Heyneke van OUTA doen ‘n beroep op die Stad Ekurhuleni om betalings bekend te maak en ‘n duidelike plan te verskaf om die projek te voltooi en die skade te herstel:
# Vladimir Putin het oligarge gevra om tot Rusland se begroting by te dra om die land se finansies te steun terwyl hy voortgaan met die oorlog in Oekraïne. Volgens die Russiese media het die president Donderdag agter geslote deure met vooraanstaande sakemanne vergader om militêre befondsing en die voortsetting van die oorlog bespreek. Die oorlog, wat al meer as vier jaar woed sedert Rusland se volskaalse inval in Februarie 2022, het die land se verdedigingskoste laat styg. Rusland het te kampe met ‘n dalende begrotingsinkomste uit energieverkope en ‘n ekonomie wat verswak.
# En sokker: Bafana Bafana en Panama het gisteraand met 1-elk gelykop gespeel in ‘n vermaaklike internasionale vriendskaplike wedstryd op Durban se Moses Mabhida-stadion. Die besoekers het eerste punte aangeteken deur Yoel Bárcenas, wie se kliniese afronding in die 23ste minuut Panama ‘n voorsprong met rustyd gegee het. Suid-Afrika het onmiddellik na rustyd gereageer, met Oswin Appollis wat die gelykmaker in die 48ste minuut aangeteken het. Die spanne speel Dinsdag in Kaapstad weer teen mekaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….