Nuus 18:00
BULLETIN 27 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vra werkgewers om afleggings te vermy te midde van skerp brandstofprysstygings
# ANC-konferensie in Limpopo gaan voort nadat die hof ‘n dringende aansoek van die hand wys
# En, Indië aanvaar militêre aankoopvoorleggings ter waarde van 412-miljard-rand
# Die vakbond Solidariteit doen ‘n beroep op werkgewers om nie met afleggings of ander drastiese werkverminderings op stygende brandstofpryse te reageer nie. Met diesel- en petrolpryse wat volgende week skerp styg, waarsku die vakbond dit is tydelike ekonomiese druk wat op die langtermyn skade vir werkers en verbruikers kan beteken. Gideon du Plessis van Solidariteit sê werkgewers moet eers alternatiewe oorweeg, soos om nie-noodsaaklike uitgawes te verminder, reistoelaes te hersien en buigsame werkreëlings in te stel:
Dit kom terwyl die regering onder toenemende druk verkeer om op die vooraand van die Paasnaweek in te gryp met stygende brandstofpryse. Brandstofpryse sal na verwagting van Woensdag af skerp styg, met 93 oktaan petrol wat met ongeveer vyf-rand-32-sent per liter styg en 95 oktaan petrol met ongeveer vyf-rand-82-sent per liter. Diesel kan met meer as tien-rand-27-sent per liter styg, terwyl paraffien die meeste sal styg met ‘n verhoging van nagenoeg elf-rand-63-sent per liter. Dit verdubbel byna die prys, en sal huishoudings swaar tref met kouer weer wat nou begin intree.
# Die Hooggeregshof in Polokwane het ‘n dringende aansoek om die ANC se provinsiale konferensie in Limpopo te stop van die hand gewys. Regter Tshifhiwa Tshivhase het beslis die saak is nie dringend nie, na aanleiding van die nienakoming van hofreëls. Basil Mabasa het die saak aanhangig gemaak en verwys na onreëlmatige benoemings, soos Collins Chabane, in Wyk 10, maar die hof het bevind daar is nie voldoende bewyse nie. Die regter het ook beslis elke party moet sy eie regskoste betaal en die konferensie gaan dus van vandag af en oor die naweek voort:
# Indië se verdedigingsverkrygingsraad het vandag voorleggings ter waarde van 412-miljard-rand goedgekeur om medium vervoervliegtuie, Russiese S-400 grond-tot-lug missielstelsels en afstandbeheerde aanvalsvliegtuie aan te koop. Die Indiese regering, deur sy ministerie van Verdediging, het die uitgawes geregverdig as ‘n strategiese noodsaaklikheid om nasionale veiligheid, tegnologiese modernisering en ekonomiese selfstandigheid te balanseer. Hy verwys na verhoogde operasionele verpligtinge en volgehoue spanning langs sy grense met China en Pakistan as ‘n primêre dryfveer. Ongeveer 75-persent van die kapitaalbegroting is opsy gesit vir binnelandse verkryging om langtermyn “invoerafhanklikheid” te verminder.
# Sokker: Afrigter Hugo Broos beoog om Bafana Bafana se diepte op die proef te stel in vanaand se wedstryd teen Panama op die Moses Mabhida-stadion in Durban. Bongokuhle Hlongwane en Mbekezeli Mbokazi sit die wedstryd uit weens reis-uitputting. Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het by die span gekuier en die gees in die Suid-Afrikaanse kamp is goed. Die wedstryd word vanaand om 7-uur regstreeks op SABC 3 en SuperSport uitgesaai. Die vriendskaplike reeks van twee wedstryde teen die Sentraal-Amerikaanse span dien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi in Junie. Die volgende wedstryd vind Dinsdag in Kaapstad plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-823-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-457-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….