Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus oor die Olimpiese Spele: Die Sport- en Regtealliansie, ILGA World en meer as 100 ander organisasies het kritiek uitgespreek oor die Internasionale Olimpiese Komitee se nuwe riglyne oor geslagsgeskiktheid. Die beleidsriglyne vereis alle atlete wat in sy vrouekategorieë meeding moet genetiese geslagstoetse ondergaan en daar is ‘n algemene verbod op mense wat identifiseer as transgender, interseks of die wat geslagsverskille het. Die organisasies noem die riglyne genadeloos en diskriminerend en sê dit word nie deur wetenskap ondersteun nie en skend internasionale menseregtewetgewing. Hulle het die komitee versoek om veiligheid bo politiek te stel.
# Sokker: Die viermalige kampioen Italië het Noord-Ierland met 2-0 geklop om vir die uitspeelwedstryd vir die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer en sal nou sake met Bosnië-Herzegovina uitspook. Wallis het weer nie gekwalifiseer nie toe hulle ‘n strafdoelwedstryd teen Bosnië Herzegovina 2-4 verloor het. Ierland se droom om die Wêreldbeker die eerste keer in 24 jaar te haal, is deur die Tsjeggiese Republiek verpletter met ‘n sege van 4-3 in ‘n strafdoelwedstryd. Swede, Pole, Denemarke, Turkye en Kosovo is almal ‘n tree nader om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer.
# Motorsport: Soos verwag, het Mercedes die pas aangegee in die eerste oefenronde van die Japannese Grand Prix. George Russell, wat die jaerskampioenskap lei, het sy spanmaat Kimi Antonelli geklop vir die vinnigste tyd, met Lando Norris van McLaren derde. Norris se spanmaat Oscar Piastri was die vinnigste in die tweede oefenronde, voor Antonelli en Russell. Norris was vierde met die Ferrari’s van Charles Leclerc en Lewis Hamilton meer as 0.7 sekondes stadiger in onderskeidelik die vyfde en sesde plekke.
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap gaan ‘n deurslaggewende naweek tegemoet en hoop op oorwinnings om hulle plekke in die uitspeelrondes te verseker. Die Stormers is tweede op die punteleer, en is môre-aand die gashere vir Edinburgh in Kaapstad. Die Bulle en die Leeus hoop om na die top ses te vorder en kom in tuiswedstryde onderskeidelik teen Munster en die Dragons te staan. Die Haaie is elfde op die punteleer en vanaand die gashere in Durban teen Cardiff. Hulle is desperaat om voort te bou op hulle onlangse vertoning en om onder die top-agt te eindig.
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, kom môre in die Miami Ope se eindstryd teen Coco Gauff te staan. Sabalenka, ‘n viermalige Grand Slam-kampioen, het Elena Rybakina van Kazakstan geklop. Sy kort net een oorwinning om met die gesogte Sonskyn-dubbel te spog ná haar sege vroeër die maand by Indian Wells. Gauff het die Tsjeg Karolina Muchova afgeransel om haar eerste Miami Ope-eindstryd te haal. Sabalenka vertel wat ondersteuners van die eindstryd teen Gauff kan verwag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….