Nuus 12:00
BULLETIN 27 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is ernstig met uitroei van korrupsie in die oprigting van huise
# Die Verenigde Arabiese Emirate vra ‘n internasionale taakspan om die Straat van Hormoes te heropen
# En Olimpiese Spele: Menseregtegroepe kritiseer die Olimpiese Komitee se nuwe riglyne vir geslagsgeskiktheid
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is ernstig oor die uitwissing van korrupsie wat vertragings veroorsaak het met die oprigting van huise. Suid-Afrika se behuisingsagterstand staan tans op ongeveer 2,6-miljoen eenhede, wat meer as 12-miljoen mense raak. Die Spesiale Ondersoekeenheid stel ondersoek in na wydverspreide korrupsie by verskeie projekte in die land wat die Behuisingsontwikkelingsagentskap befonds. Ramaphosa sê die land betree nou ‘n nuwe fase in die lewering van menslike nedersettings:
Intussen het die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, ‘n beroep gedoen vir dringende, grootskaalse samewerking tussen die regering, die privaat sektor en finansiële instellings om hierdie agterstand aan te spreek. Simelane sê die land word in ‘n ingewikkelde omgewing bedryf, gekenmerk deur vinnige verstedeliking, stygende boukoste, infrastruktuurbeperkings en toenemende klimaatverwante gevare:
# MultiChoice se uitvoerende hoof, Willington Ngewepe, het DStv-intekenaars verseker intekengeld sal nie vanjaar verhoog word nie. Hy het in ‘n onderhoud met MyBroadband gesê sy instelling is regstreeks verantwoordelik vir die vasstelling van intekenbedrag wat DStv-klante in die Suid-Afrikaanse mark betaal. Ngewepe sê hulle het begrip vir mense se moeilike omstandighede en sal nie die fooie volgens inflasie aanpas nie. Hy sê intekenaars sal ʼn e-pos ontvang wat hulle slegs inlig dat die intekengeld dieselfde bly.
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê hy sal betrokke raak by ʼn multinasionale maritieme taakspan om die Straat van Hormoes te open. Die smal seestraat is byna vier weke al vir alle praktiese doeleindes gesluit weens die konflik in die Midde-Ooste. Sowat 20-persent van die wêreld se olie, aardgas en kunsmis word deur hierdie seestraat vervoer. Volgens die Financial Times werk die VAE aan ʼn resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad saam met Bahrein om enige toekomstige taakmag van ʼn mandaat te voorsien.
# Olimpiese Spele: Die Sport- en Regtealliansie, ILGA World en meer as 100 ander organisasies het kritiek gelewer oor die Internasionale Olimpiese Komitee se nuwe riglyne oor geslagsgeskiktheid. Die beleidsriglyne vereis alle atlete wat in sy vrouekategorieë meeding moet genetiese geslagstoetse ondergaan en daar is ‘n algemene verbod op mense wat identifiseer as transgender, interseks of die wat geslagsverskille het. Die organisasies noem die riglyne genadeloos en diskriminerend en sê dit word nie deur wetenskap ondersteun nie en skend internasionale menseregtewetgewing. Hulle het die komitee versoek om veiligheid bo politiek te stel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-436-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-445-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….