Nuus 09:00
BULLETIN 27 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê politieke en beleidsbesluite sal ekonomiese groei bepaal
# TLU SA verwelkom die eerste uitvoere van tafeldruiwe na die Filippyne
# En Donald Trump stel sy dreigement om Iranse energie-aanlegte aan te val met 10 dae uit
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die politieke en beleidsbesluite wat Suid-Afrika nou neem, sal bepaal of groei terugsak tot 0,5-persent per jaar of oor die medium termyn opskiet tot drie-persent of meer per jaar. Dit is volgens die buro se “Scenario’s vir die Suid-Afrikaanse ekonomie: 2026 – 2030”-verslag. Die buro het tien instrumentele ingrypings oor vyf areas geïdentifiseer om vertroue en groei ‘n hupstoot te gee. Dit sluit hervorming op die volgende gebiede in: die strafregstelsel, staatsektor, verkryging, begroting en staatsinstellings.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die eerste amptelike besending Suid-Afrikaanse tafeldruiwe se aankoms in die Filippyne. Die Filippyne is onder die 20 voorste invoerders van tafeldruiwe en het in 2024 sowat 74-duisend ton ingevoer. Suid-Afrika se tafeldruifbedryf toon bestendige groei en het tot dusver in die 2025/2026-seisoen 76,6-miljoen kartonne uitgevoer. Bennie van Zyl van TLU SA sê uitbreiding na nuwe markte is ʼn groot voordeel vir die landbousektor:
# Die DA in Tshwane beskuldig burgemeester Nasiphi Moya dat sy korrupsie moontlik maak na onthullings by die Madlanga-kommissie. Die party beweer adjunkburgemeester Eugene Modise het bande met die stad se omstrede tenders. Cilliers Brink van die DA beweer Moya het versuim om op te tree, ten spyte van die skorsing van die Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe Dienste, Kholofelo Morodi. Hy sê die party sal pogings beveg teen ‘n mosie in die raad om die bespreking van die bewerings te blokkeer:
# President Donald Trump van Amerika het sy dreigement om Iranse energie-infrastruktuur aan te val met nog tien dae uitgestel terwyl beraadslaging met Teheran voortgaan. Die oorspronklike sperdatum was vandag. Trump sou Iranse energie-infrastruktuur aanvanklik verlede Saterdag aanval as Teheran nie die Straat van Hormoes oopstel nie. Hy het dit Maandag egter met vyf dae uitgestel. Trump het op Truth Social gesê ten spyte van verkeerde verklarings in die fopnuusmedia gaan onderhandelinge tussen Amerika en Iran om die oorlog te beëindig, voort.
# Sokker: Die viermalige kampioen Italië het Noord-Ierland met 2-0 geklop om vir die uitspeelwedstryd vir die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer en sal nou sake met Bosnië-Herzegovina uitspook. Wallis het weer nie gekwalifiseer nie toe hulle ‘n strafdoelwedstryd teen Bosnië Herzegovina 2-4 verloor het. Ierland se droom om die Wêreldbeker die eerste keer in 24 jaar te haal, is deur die Tsjeggiese Republiek verpletter met ‘n sege van 4-3 in ‘n strafdoelwedstryd. Swede, Pole, Denemarke, Turkye en Kosovo is almal ‘n tree nader om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-434-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….