Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Frankryk het Suid-Afrika se G7-beraaduitnodiging te midde van geopolitieke spanning teruggetrek. Die koerant skryf die skuif dui op Pretoria se groeiende isolasie van belangrike multilaterale forums.
# Mail & Guardian:
Skryf daar is ‘n interne toutrekkery in die DA oor kabinetsposte en tweedens word berig oor “FANNIE AND THE ROTTEN DOZEN” met verwysing na die polisiebeamptes wat in die hof verskyn het vir beweerde tenderbedrog.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig volgens kenners moet Suid-Afrika hom gereed maak dat nog lande hom die rug sal keer. Amerika is belangrik vir sommige lande en die toedrag van sake sal waarskynlik vir die Trump-era voortduur. President Cyril Ramaphosa sê intussen Frankryk se besluit het niks met Amerika te doen nie. Hy sê die keuse was bloot om Kenia te nooi.
En tweedens skryf die webblad Suid-Afrika het intussen sy bande met China versterk. Adjunkpresident Han Zheng van China is tans op besoek aan die land.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig die ANC se verkiesingsvoorbereidings staar verskeie uitdagings in die gesig. Daar is tans ‘n interdik teen die Oos-Kaapse konferensie, maar die party het besluit om voort te gaan. In Limpopo sal daar vandag uitspraak gelewer word of die konferensie voortgaan.
# En The Citizen:
Skryf die regering het agter die skerms deur die uitreiking van aandele ‘n miljard-rand se lewensboei aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens toegeken. Dit het in die lugdiens se jaarverslag aan die lig gekom.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die moord op ‘n 71-jarige sielkundige, dokter Jane Luck, en haar 77-jarige man op die plaas Crags buite Plettenbergbaai. ‘n Man wat met die egpaar se voertuig gevlug het is later aangekeer. Daar word ook berig oor ‘n afsonderlike voorval waartydens ‘n vrou van Velddrif doodgesteek is toe sy ‘n huis in die Paarl opgepas het.
En tweedens skryf die koerant ook oor die terugtrekking van Suid-Afrika se G7-uitnodiging.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die polisie stel ondersoek in nadat ‘n e-taxibestuurder glo deur ‘n taxigroep ontvoer is.
En tweedens skryf die koerant ook oor die chaos met die ANC se Oos-Kaapse konferensie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf luukse huise wat in Thornville naby Pietermaritzburg op Eskom-grond opgerig is, word gesloop.
En berig die uitrol van bek-en-klouseer-enstof vorder baie stadig in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Stad Windhoek sê gevolgtrekkings oor sy Hoërhof-stryd met die Elektrisiteitsbeheerraad is voortydig.
En tweedens skryf die koerant Namibiese ondernemings wat deur vroue besit word, ontvang steeds net 14-persent van die finansiering vir ontwikkelingsprojekte.