Nuus 07:00
BULLETIN 27 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy sal binnekort ‘n aankondiging oor Masemola doen
# Die polisie hervat die soektog na Joshlin Smith te midde van bewerings oor nuwe bewyse
# En krieket: 17 Suid-Afrikaners is gereed om in vanjaar se IPL mee te ding
# President Cyril Ramaphosa sê hy beraadslaag met die sekuriteitsgroepering nadat ‘n dagvaarding vir die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, uitgereik is om volgende maand in die hof te verskyn. Dit hou verband met die gesondheidsdienste-tender van 360-miljoen-rand wat aan die tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare24, toegeken is. Ramaphosa sê hy sal binnekort ʼn aankondiging maak oor die pad vorentoe. Hy sê onthullings voor die Madlanga-ondersoekkommissie en die parlementêre ad hoc-komitee is kommerwekkend:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid se stelsels is opgeblase, ondoeltreffend en geneig tot korrupsie en lewer nie betekenisvolle vaardigheidsontwikkeling nie. Die organisasie sê die vaardigheidstelsel, wat bedoel is om opleiding en werkgeleenthede te ondersteun, het duur en ondoeltreffend geword ten spyte van befondsing wat miljarde beloop. Hy vra vir ‘n nuwe, werkgewer-geleide model wat befondsing direk met opleidingsuitkomste en indiensneming verbind, asook die vermindering van burokratiese lae om aanspreeklikheid te verseker.
# Die ANC sê hy gaan teen die Oos-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak appelleer wat die party se provinsiale verkiesingskonferensie die naweek deur ʼn interdik verbied. Partylede het die ANC hof toe geneem uit ontevredenheid met die sameroeping van takke se algemene vergaderings, vermeende gekonkel met lidmaatskap, en onregmatige prosesse in aanloop tot die konferensie. Die hof het beveel dat die konferensie uitgestel word tot die geskille opgelos is. ʼn Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Mmamoloko Kubayi, sê hulle gaan nie die hof uittart nie:
# Die polisie in Saldanhabaai in die Wes-Kaap, het die soektog hervat na Joshlin Smith, wat op 19 Februarie 2024 as sesjarige uit haar huis in Middelpos verdwyn het. Haar ma, Kelly Smith, en ‘n medepligtige is skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir ontvoering en kinderhandel. Verlede week het die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, beweer hy het bewyse dat Joshlin nog leef, wat nou tot hernieude soektogte gelei het. Polisie met snuffelhonde fynkam digbegroeide gebiede as deel van die soektog.
# President Donald Trump van Amerika se spesiale gesant in die Midde-Ooste, Steve Witkoff, erken hulle het ʼn 15-punt-aksielys aan Iran gestuur wat die raamwerk vorm van ʼn vredesooreenkoms. Dis deur die Pakistanse regering hanteer wat as bemiddelaar optree. Witkoff sê die raamwerk het tot dusver gelei tot sterk en positiewe boodskappe en onderhandelings. Hy sê Amerika sal vertroulikheid oor die spesifieke voorwaardes van die gesprekke handhaaf en nie deur die media onderhandel nie:
# Krieket: Die 19de weergawe van die Indiese Premierliga begin môre en 17 Suid-Afrikaners gaan vanjaar deelneem. Dit sluit Aiden Markram, Heinrich Klaasen, Kagiso Rabada, Quinton de Kock, Corbin Bosch en die tienersensasie Lhuan-Dré Pretorius in. Die liga skop af met die verdedigende kampioene, die Royal Challengers Bengaluru, wat gasheer speel vir Sunrisers Hyderabad in Bengaluru. Sondag ontvang die vyfmalige kampioene, Mumbai Indians, die Kolkata Knight Riders in Moembai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-750-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-394-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….