Nuus 06:00
BULLETIN 27 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika word nie deur Frankryk afgejak nie
# Hoofregter Mandisa Maya doen ‘n beroep op taalhervorming in howe
# En Donald Trump sê Iran smeek om ‘n ooreenkoms te sluit
# President Cyril Ramaphosa het Frankryk se besluit om Suid-Afrika se uitnodiging na die G7-beraad in Junie terug te trek as onbelangrik bestempel. Die president het die G7-vergaderings by verskeie geleenthede as gas van die gasheerland bygewoon. Na bewering het Frankryk die besluit geneem weens druk van die VSA, wat glo gedreig het om die byeenkoms te boikot as Suid-Afrika as spesiale gas sou deelneem. Ramaphosa sê die terugtrekking van die uitnodiging beteken nie dat die land afgejak is nie:
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika se inflasieteiken van drie-persent bly haalbaar ten spyte van wêreldwye skokke, insluitend stygende olie- en kommoditeitspryse as gevolg van die konflik in die Midde-Ooste. Terwyl korttermyninflasie tot bo vier-persent kan styg, het Kganyago aan die media gesê verstandige monetêre beleid, ‘n bestendige beleidskoers van 6,75-persent en noukeurige monitering van risiko’s sal help om inflasie oor die volgende twee jaar weer by die teiken te bring:
# Hoofregter Mandisa Maya het hervorming van taalgebruik in howe aangemoedig om toegang tot geregtigheid te verbeter. Maya het by die Walter Sisulu-universiteit in Mthatha, Oos-Kaap, gesê taalregte is fundamenteel, nie administratief nie. Maya kritiseer Engels as die enigste taal vir rekords en vra vir groter gebruik van inheemse tale. Die lesing, in samewerking met die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, het billikheid, grondwetlike nakoming en die vermindering van afhanklikheid van tolke beklemtoon.
# Die geskorste Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe Dienste, Kholofelo Morodi, het ‘n verslag voorgelê na bewerings van bande met tenderbedrog in die stad. Morodi is gevra om terug te staan te midde van kwessies wat voor die Madlanga-kommissie uitgewys is. Die burgemeester, Nasiphi Moya, sê openbare verteenwoordigers moet verantwoording doen wanneer kommer ontstaan. Sy sê Morodi kon aanvanklik nie reageer nie weens persoonlike omstandighede. Die stad sal nou die verslag beoordeel om verdere stappe te bepaal.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het herhaal dat Iran smeek om ‘n ooreenkoms te sluit en gesê hy los dit vir die Teheran-leiers om hom te oortuig om die oorlog te staak. Vroeër die week het Iran ‘n Amerikaanse vredesplan van die hand gewys wat na bewering geëis het dat die regime sy kernprogram laat vaar en sy ballistiese missiele beperk. Trump het gister tydens ‘n kabinetsvergadering in die Withuis gesê die VSA sal sy militêre veldtog voortsit as Iran nie sy kernambisies permanent laat vaar nie:
# Motorsport: Kimi Antonelli sê sy hy is na eerste oorwinning in ‘n Formule Een wedren meer bewus van sy potensiaal terwyl hy en Mercedes daarna streef om hul vroeë voordeel in die seisoen in Japan verder te voer. Die 19-jarige renjaer het die Chinese Grand Prix gewen en die tweede jongste Grand Prix-wenner ooit geword, na Max Verstappen. Mercedes het eerste en tweede klaargemaak in albei die Grand Prix’s tot dusver, met Antonelli se spanmaat George Russell wat in Australië gewen het. Antonelli sê sy benadering sal nie in Japan verander nie, maar erken sy oorwinning het sy selfvertroue ‘n hupstoot gegee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-750-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….