Nuus 17:00
BULLETIN 26 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ouditeur-generaal vra vir strenger rekenpligtige toesig binne die regering
# Die DA dien strafregtelike klagte in oor die R637-miljoen SETA-befondsing-skandaal
# En, die Valke ondersoek brandstigting na die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou deur ‘n brand vernietig is
# Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke het die uitvoerende gesag versoek om toesig oor rekenpligtige beamptes regoor die nasionale en provinsiale regering te versterk. Maluleke het met die voorlegging van die gekonsolideerde verslag vir 2024/25 klem gelê op aanspreeklikheid, etiese gedrag en gevolgbestuur. Sy het verwys na finansiële verliese van meer as nege-miljard-rand as gevolg van ‘n groeiende tekort aan vertroue en regeringsmislukkings. Slegs twee staatsondernemings het ongekwalifiseerde oudits ontvang. Die OG het ‘n beroep gedoen op verbeterde verkrygingsbeheer, beter gebruik van ouditkomitees en sterker interne oudits:
# Die DA het strafregtelike klagtes ingedien nadat meer as 630-miljoen-rand in toelaes verdwyn het by die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid van die Onderwys-, Opleidings- en Ontwikkelingspraktyke. Die party beskuldig senior leierskap, insluitend die waarnemende uitvoerende hoof, Nokukhanya Mafahla, van ernstige bestuursmislukkings en moontlike oortredings van finansiële en anti-korrupsiewette. Die DA-lid, Karabo Khakhau, vra ‘n volledige ondersoek, terugvordering van die geld en tronkstraf vir diegene wat verantwoordelik is:
# Die Valke ondersoek ‘n saak van brandstigting na die brand wat die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha, Oos-Kaap, verwoes het. Die elf-verdiepinggebou, voorheen die hoofkwartier van die regering, is gister deur ‘n massiewe brand vernietig. Die woordvoerder van die Valke, Ndiphiwe Mhlakuvana het die ondersoek bevestig en sê die oorsaak en motief vir die brand word ondersoek. Owerhede het nie inligting oor verdagtes bekend gemaak nie. Mhlakuvana sê die verwoeste gebou is ‘n beduidende verlies aan erfenis in die streek.
# Die voormalige president van Venezuela, Nicolas Maduro, probeer vandag ‘n federale regter oortuig dat die Amerikaanse regering inmeng met sy vermoë om homself te verdedig. Maduro se prokureur, Barry Pollack, het verlede maand gesê die regering van Venezuela word nie toegelaat om sy regskoste betaal nie. Hy het gesê ‘n lisensie wat dit toelaat, is aanvanklik toegestaan en toe herroep. Pollack meen dit skend Maduro se grondwetlike reg om homself teen die aanklagte te verdedig. Maduro en sy vrou is vroeg in Januarie in Caracas gevange geneem en het onskuldig gepleit op vuurwapen- en dwelmverwante aanklagte.
# Motorsport: Lewis Hamilton het op 41 ‘n nuwe wip in sy stap en sê hy is nou meer toegewyd aan Formule Een as ooit tevore en glo hy oefen harder as enige ander jaer. Die sewemalige wêreldkampioen het die seisoen sterk begin met Ferrari en is vierde in die kampioenskap na twee wedrenne, 18 punte agter die voorloper George Russell van Mercedes. Hamilton se eerste seisoen by Ferrari verlede jaar was ‘n nagmerrie. Dinge het hierdie seisoen egter merkbaar verbeter, met die nuwe regulasies en motorontwerpe, wat lei tot meer verbysteekgeleenthede tydens wedrenne as wat onlangs moontlik was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-485-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-440-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….