Nuus 12:00
BULLETIN 26 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia bevestig Masemola bly aan as nasionale polisiekommissaris te midde van korrupsie-aanklagte
# Die DA sê 36-duisend militêre veterane en pensioenarisse verkeer in gevaar om hul gesondheidsorgdekking te verloor
# En motorsport: Daar is klein aanpassings aan die energiebestuursreëls om by die Japannese Grand Prix te kwalifiseer
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het bevestig die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, bly aan in die amp en is nie geskors nie, ondanks ‘n dagvaarding teen hom. Masemola staan tereg op aanklagte wat verband hou met die SAPD-gesondheidsdienste-tender van 360-miljoen-rand wat aan die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala toegeken is, ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Cachalia sê hy sal met president Cyril Ramaphosa vergader om die saak te bespreek en ‘n raadgewende paneel stig om die volgende stappe te bepaal.
# Die DA eis onmiddellike ingryping na die onthulling dat die SA Militêre Gesondheidsdiens se Gewone Mag Mediese Voortsettingsfonds dreigende ineenstorting in die gesig staar. Dit sal die gesondheidsorgdekking van ongeveer 36-duisend militêre veterane en pensioenarisse in gedrang bring. Nicholas Gotsell van die DA sê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het bevestig dat die fonds ’n invloei van slegs ‘n 3,5-persent het, met ‘n maandelikse tekort van 40-miljoen-rand, wat ‘n afgryslike tekort van 50-persent daarstel:
# Die Stad Kaapstad sê werksmag-data toon duisende inwoners van gemeenskappe soos Mitchells Plain, Khayelitsha en Langa versterk die metro se florerende oproepsentrumbedryf. Syfers toon dat die meeste werknemers van die internasionale uitkontrakteringsentrums in Mitchells Plain en Khayelitsha woon. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê sowat 70-duisend Kapenaars werk in sentrums wat internasionale klante bedien, en nog 30-duisend inwoners werk by plaaslike oproepsentrums:
# ‘n Ekonoom van Cirrus Capital, Oliver Diggle, sê Namibië se verwerping van miljardêr Elon Musk se Starlink, is ‘n groot fout. Die satellietinternetmaatskappy is beide ‘n telekommunikasielisensie en toegang tot die radiospektrum geweier. Die Kommunikasie-reguleringsowerheid van Namibië het die gebrek aan plaaslike eienaarskap as rede vir sy besluit gegee. Nasionale wette vereis dat ten minste 51-persent van die aandele in enige telekommunikasiemaatskappy deur burgers of plaaslike entiteite besit word. Diggle sê dit is ‘n verspeelde geleentheid vir Namibië:
# Motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, het die energiebestuursreëls om die naweek by die Japannese Grand Prix te kwalifiseer, effens aangepas. Die krageenheid-vervaardigers, Mercedes, Ferrari, Red Bull, Ford, Audi en Honda, het eenparig ingestem om die maksimum toegelate energie-herlading per rondte om by Suzuka te kwalifiseer, van nege tot agt megajoules te verlaag. Dit beteken renjaers sal minder energie per rondte gebruik om die battery te herlaai. Die FIA sê dit sal verseker dat die beplande balans tussen energie-ontplooiing en bestuurderprestasie volgehou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-846-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-441-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….