Nuus 08:00
BULLETIN 26 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Polisiekomitee is bekommerd oor Masemola se dreigende aanklagte
# Die totale aantal likwidasies in Suid-Afrika daal met 3,6-persent in Februarie
# En ‘n vlieënier wat met brandbestryding help oorleef ‘n helikopterongeluk
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie sê hy is bekommerd oor die aanklagte teen die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, en sy verwagte hofverskyning. Hy sal formeel aangekla word oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens se gesondheidsdienste-tender van 360-miljoen-rand wat toegeken is aan die beskuldigde sakeman, Vusimusi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare24 Tshwane District. Die voorsitter, Ian Cameron, sê dit volg nadat onlangse getuienis voor die Madlanga-kommissie ‘n kultuur blootgelê het waar senior polisiebeamptes na bewering noue, verdagte finansiële bande met misdaadsindikate handhaaf.
# Statistiek Suid-Afrika sê totale likwidasies het in Februarie met 3,6-persent gedaal, van 140 tot 135 gevalle. Beslote korporasies het die grootste afname getoon, terwyl maatskappylikwidasies effens toegeneem het. Oor die drie maande wat in Februarie geëindig het, was totale likwidasies 1,5-persent laer. Onica Mushwana van Statistiek SA sê in die eerste twee maande van hierdie jaar is daar 6,1-persent minder likwidasies aangeteken vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, wat dui op ‘n beskeie verbetering in die bestendigheid van besighede:
# Die Burgerlugvaartowerheid het ‘n ondersoek begin nadat ʼn Werk met Vuur-helikopter gisteraand in Tafelberg Park naby Houtbaai in Kaapstad neergestort het. Die vlieënier het slegs geringe beserings opgedoen. Die helikopter het SANParke met ʼn brand bokant Houtbaai en Constantia Nek bygestaan toe die hoofrotor aan die berg raak en dit neerstort. Werk met Vuur se besturende direkteur, Trevor Abrahams, het aan die SABC gesê die helikopter is reg oor die wêreld in brandbestrydingsoperasies gebruik:
# Die Withuis het gewaarsku dat president Donald Trump bereid is om “die hel te ontketen” as Iran nie aanvaar hy het verloor nie. Dit volg nadat Teheran, wat hy beskryf as oormatige eise in die VSA se 15-punt-voorstel, verwerp het, en verklaar het dat hy die oorlog op sy eie terme sal beëindig. Die Withuis-perssekretaris, Karoline Leavitt, sê Iran se vorige mistasting het hulle hul senior leierskap, vloot, lugmag en lugverdedigingstelsel gekos:
# Sokker: Banyana Banyana-afrigter Desiree Ellis sê hul komende vriendskaplike wedstryde teen Algerië en Japan sal ‘n goeie uitdaging wees voor die Afrika-beker vir vroue in Marokko later vanjaar. Vier-en-twintig spelers is in die groep om Algerië volgende maand te pak, insluitend die belowende jong speler Thorisho Mphelo, saam met die terugkerende ervare duo, Hilda Magaia en Kaylan Swart. Ellis sê al wat hulle soek, is betroubaarheid en intensiteit. Suid-Afrika is by Wafcon in Groep B geloot saam met die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-874-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-507-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….