Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die moontlikheid bestaan dat die Presidensie ‘n tussentydse nasionale polisiekommissaris mag aanstel nadat generaal Fannie Masemola gedagvaar is om in die hof te verskyn oor vermeende tenderbedrog.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met die hofverskyning van die 12 polisiebeamptes en die lasbrief wat gistermiddag op Masemola bedien is om op 21 April in die Pretoria-landdroshof te verskyn in verband met die Mediacare24 Tshwane District-tenderbedrogsaak. Die webblad skryf president Cyril Ramaphosa het nog nie besin oor Masemola se toekoms nie.
En tweedens word berig ‘n helikopter van Kishugu Aviation, wat deelgeneem het aan brandbestryding in Houtbaai, het gistermiddag neergestort. Die vlieënier het slegs geringe beserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem. Die Burgerlugvaartowerheid stel ondersoek in.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die hofverskyning van die 12 polisiebeamptes. Die koerant berig een van die beamptes wat gister in die Pretoria-landdroshof verskyn het, brigadier Rachel Matjeng, het vroeër beweer dat sy en Vusimuzi ‘Cat’ Matlala in ‘n romantiese verhouding was en dat hy haar met geskenke oorlaai het.
# Sowetan:
Lei met: “STATE OF DISORDER”. Die koerant berig met die nasionale polisiekommissaris wat in die hof moet verskyn vir beweerde tenderbedrog, is die land se veiligheidsgroep in ‘n nasionale krisis gedompel.
# En The Citizen:
Skryf AfriForum het ‘n beroep op die VSA gedoen om die Magnitsky-wet te gebruik om sanksies te plaas op die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Netwerk24 oor die hofverskyning van die polisiebeamptes en die toekoms van Masemola en skryf ook oor die helikopter wat neergestort het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Het vandag ‘n spesiale verslag onder die titel: “WELCOME TO THE DARK SIDE”. Die koerant kyk in diepte na die vernietigende uitwerking van langdurige kragonderbrekings op sakeondernemings, inwoners en die samelewing in Nelson Mandelabaai.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die hofverskyning van die senior polisieoffisiere en berig oor oudminister Dion George se bevestiging van die omstrede DA-vergoedingsverslag.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering ignoreer skynbaar ‘n skadu-ekonomie wat in die noordelike dele van die land posgevat het. Dit is informele werkverskaffingsburo’s vir onwettige immigrante wat die land insypel.
En tweedens skryf die koerant die familie van ’n man wat verlede jaar na bewering deur die polisie by ’n padblokkade doodgeskiet is, eis miljoene in skadevergoeding.