Nuus 07:00
BULLETIN 26 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe om die aanklagte teen Fannie Masemola aan te spreek
# AfriForum stel ondersoek in na Suid-Afrika se brandstofreserwes
# En die VN-hoof waarsku teen ‘n groter oorlog te midde van die Midde-Oosterse konflik
# President Cyril Ramaphosa het erkenning gegee aan die aanklagte teen die nasionale kommissaris van Polisie, Fannie Masemola oor die Medicare24-gesondheidsdienstetender van 360-miljoen-rand wat verband hou met Vusimusi “Cat” Matlala. Masemola sal volgende maand in die hof verskyn. Die woordvoerder vir die presidensie, Vincent Magwenya sê Ramaphosa het ook kennis geneem van die inhegtenisnemings van 12 senior polisiebeamptes wat met ‘n verkrygingsondersoek verbind word:
# AfriForum vra die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne om omvattende inligting te verskaf oor Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes te midde van ‘n wêreldwye energiekrisis wat erger word. Die organisasie waarsku Suid-Afrika mag moontlik net oor weke se brandstof beskik, veel minder as die 90-dae internasionale standaard, met pryse wat volgende maand skerp gaan styg. Ernst van Zyl van AfriForum vra dat inligting oor reserwevlakke, gebruik en energiesekerheidsbeplanning volledig bekend gemaak word:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê ‘n verslag van die Ouditeur-generaal beskryf toenemende verval in bestuur, finansiële beheer en aanspreeklikheid by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Bevindings van ʼn data-analise-ondersoek het 822 studente geïdentifiseer wat volgens Binnelandse Sake se databasis oorlede is, maar steeds befondsing ontvang. Meer as 14-duisend studente se huishoudelike inkomste oorskry die skema se toelaatbare inkomste-grens, maar word steeds befonds. Manamela het die skema se raad opdrag gegee om sy forensiese eenheid te aktiveer en saam met die Spesiale Ondersoekeenheid te werk.
# Die Oos-Kaapse Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur sê ʼn span ingenieurs het opdrag gekry om die volle omvang van die skade vas te stel nadat ʼn brand die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha verwoes het. Die gebou van elf verdiepings het talle regeringsdepartemente soos vervoer, maatskaplike ontwikkeling en gesondheid gehuisves. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Die departement sê alles moontlik word gedoen om gebeurlikheidsmaatreëls in te stel om seker te maak noodsaaklike dienslewering gaan voort.
# Die Midde-Oosterse konflik duur reeds drie weke en die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê die betrokke partye moet ophou veg, ʼn diplomatieke oplossing vind en vrede laat heers. Sedert die Verenigde State en Israel met ʼn gesamentlike veldtog teen Iran begin het, is meer as een-duisend-500 mense dood. Guterres het die ervare VN-diplomaat, Jean Arnault, as sy persoonlike gesant aangestel om pogings te ondersteun om die konflik te beëindig. Hy waarsku die wêreld staar ʼn groter oorlog in die gesig:
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler, George Linde, het erkenning ontvang vir sy prestasie in die T20-reeks teen Nieu-Seeland. Hy het een plek opgeskuif en is nou 22ste op die mans se T20-ranglys vir veelsydige spelers na skitterende bydraes met die bal en kolf. Suid-Afrika het die reeks met 3-2 beklink. Die Proteas se waarnemende kaptein vir die reeks, Keshav Maharaj, het vyf plekke verbeter en is nou 47ste op die T20-ranglys vir boulers. Sy landgenote, Ottneil Baartman en Gerald Coetzee, is nou onderskeidelik 66ste en 88ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-303-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-532-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….