Nuus 06:00
BULLETIN 26 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp AfriForum se Mbalula-dossier
# Fannie Masemola moet in die hof verskyn oor Matlala se tender
# En Iran verwerp die VSA se 15-punt-voorstel om die oorlog te beëindig
# Die ANC het AfriForum se sogenaamde ‘Mbalula-dossier’ afgemaak as ‘n polities gemotiveerde aanval op sy sekretaris-generaal Fikile Mbalula. Die party het die burgerregte-organisasie daarvan beskuldig dat hy optree soos ‘n buitelandse groep wat Suid-Afrika se soewereiniteit ondermyn en post-apartheidtransformasie teenstaan. Die ANC het volle vertroue in sy sekretaris-generaal en leierskap herbevestig. Die woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu, sê die fokus bly op die verdediging van nasionale soewereiniteit, die bevordering van ekonomiese transformasie en die verbetering van die lewens van Suid-Afrikaners:
# Die nasionale kommissaris van Polisie, Fannie Masemola is gedagvaar om op 21 April in die Pretoriase landdroshof te verskyn oor ‘n Medicare24-polisiekontrak van 360-miljoen-rand wat verbind word met sakeman Vusimusi “Cat” Matlala. Masemola, saam met 12 senior polisiebeamptes, insluitend Matlala, staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Die woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe, sê Masemola se aanklagte hou verband met beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur:
# Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief, Saai, het in samewerking met Sakeliga en Vrystaat Landbou ‘n hofbevel gekry wat die Departement van Landbou dwing om ‘n bek-en-klouseer-inentingskema teen 17 April te finaliseer. Die Hooggeregshof in Pretoria laat ook boere en belanghebbendes wat voorheen van die proses uitgesluit is, toe om insette te lewer in die finale inentingsplan. Die uitvoerende hoof van Saai, Francois Rossouw, waarsku totale staatsbeheer het koste opgedryf en honderde plase en kommersiële kuddes in gevaar gestel.
# Iran het die VSA se 15-punt-voorstel vir die beëindiging van die oorlog verwerp en dit as oormatig beskryf. Na bewering sluit dit die staking van Iran se kernprogram, die beperking van die gebruik van missiele en die heropening van die Straat van Hormoes in. Iran sê enige staking van vyandelikhede sal slegs op sy eie voorwaardes geskied. Teheran het vyf voorwaardes gestel. Dit sluit in ‘n volledige staking van aggressie en sluipmoorde deur die VSA en Israel, erkenning van Iran se soewereiniteit oor die Straat van Hormoes en betaling vir oorlogskade en herstel.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewesgroep het verlede naweek vir die Seweswêreldkampioenskapreeks gekwalifiseer met nog een toernooi oor. Maria Tshiremba sê dit was ‘n groot verligting, maar hulle is nie klaar nie en wil steeds so sterk as moontlik eindig wanneer die laaste toernooi in Sao Paulo plaasvind. Tshiremba het 11 drieë gedruk in die drie kwalifiserende toernooie voor Brasilië. Suid-Afrika speel Saterdag teen Spanje in hul openingswedstryd, voordat hulle Kenia en Brasilië pak. Sondag sal hulle die toernooi teen Argentinië en China afsluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-242-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-521-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekende Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en teen-apartheidsaktivis, Terry Bell, is op 84-jarige ouderdom oorlede. Hy is gister oorlede terwyl hy saam met sy dogter en skoonseun op ‘n familie-uitstappie was. Hy en sy vrou, Barbara, is in 1966 deur die apartheidsregering verban en het jare lank in ballingskap gewoon. Sy joernalistieke loopbaan het oor ses dekades gestrek en het bydraes gelewer tot media soos The Mail & Guardian, City Press, GroundUp en Sunday Times. Bell het verskeie boeke geskryf, insluitend die bekroonde memoir A Hat, a Kayak and Dreams of Dar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….