Nuus 16:00
BULLETIN 25 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oud-taakmaglid ontken sy betrokkenheid by getuie D se moord
# Minister Kubayi lei die uitbreiding van hofdienste om toegang in landelike gebiede en townships te verbeter
# En rugby: Baanbreker Hollie Davidson sal die skeidsregter wees in die Franse Top 14-wedstryd
# ‘n Voormalige lid van die SAPD se Spesiale Taakmag, Matiphandile Sotheni, het vandag in die Landdroshof in Brakpan verskyn. Hy ontken bewerings rakende die moord op Marius van der Merwe, ‘n getuie by die Madlala-kommissie, bekend as Getuie D, wat in Desember verlede jaar vermoor is. Van der Merwe is voor sy huis en voor sy gesin in Brakpan geskiet. Borgtogverrigtinge is tot 14 Mei uitgestel om Sotheni toe te laat om vir sy verdediging voor te berei. Hy beweer hy is onregmatig gearresteer:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê haar departement het hofdienste uitgebrei in ‘n beduidende stap vir die bevordering van toegang tot geregtigheid. Die nuwe dienste sal van Dinsdag af by sekere howe regoor die land in werking sal tree. Die woordvoerder van die ministerie, Terrence Manase, sê die departement het 18 howe geïdentifiseer om die uitgebreide dienste aan te bied, geregtigheid nader aan gemeenskappe te bring en die doeltreffendheid van die regstelsel te verbeter:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is onthuts oor die onthullings deur die administrateur van die Sektorale Onderwys en Opleidingsowerheid vir Plaaslike Regering om die instelling se gebouehuur te verleng. Dit is ondanks die feit dat dit as onreëlmatig deur die parlementêre se oorsigstrukture aangegee is. Claude Naicker van die staatsdiensvakbond sê parlementariërs het onomwonde gesê geen verlenging moes toegestaan gewees het nie, gegewe die wetlike en finansiële risiko’s verbonde aan die handhawing van ‘n onwettige huurooreenkoms:
# Indien die olieprys die vlak van 150-dollar per vat bereik sal dit ‘n wêreldwye resessie veroorsaak. Larry Fink is die hoof van die Amerikaanse finansiëledienstegroep BlackRock. Hy het aan die BBC gesê as Iran ‘n bedreiging bly en oliepryse hoog bly, sal dit diepgaande implikasies vir die wêreldekonomie inhou. Fink glo indien die konflik opgelos kan word en Iran weer internasionaal aanvaar word, kan die prys terugval tot onder die vlakke voor die oorlog. Indien dit nie gebeur nie, kan die olieprys naby 150-dollar bly, wat tot ontstellende gevolge vir die ekonomie kan lei met ‘n moontlike skerp resessie.
# Rugby: Die Skotse skeidsregter Hollie Davidson sal die eerste vrou word om beheer te neem van ‘n Franse Top 14-wedstryd wanneer sy in April in die wedstryd tussen Lyon en Clermont blaas. Die 33-jarige het ook geskiedenis gemaak in vanjaar se mans Sesnasiesreeks. Sy was skeidsregter in die kampioenskapswedstryd op 14 Februarie toe Ierland met Italië afgereken het. Davidson is in 2025 as die Wêreldrugby-skeidsregter van die jaar aangewys en was ook reeds in beheer van wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Uitdaagbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-298-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-544-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….