Nuus 15:00
BULLETIN 24 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kommunikasiewerkersvakbond sê die regering het geen politieke wil om die Poskantoor te red nie
# ‘n Parlementêre komitee vra vir die sterker belyning van toerismevaardighede
# En krieket: Die Proteas beklink die T20-reeks 3-2 met ‘n oorwinning van 33 lopies in Christchurch
# Die Kommunikasiewerkersvakbond sê dit is duidelik dat die regering geen politieke wil het om die Suid-Afrikaanse Poskantoor van likwidasie te red nie. Georganiseerde arbeid het voorstelle deur die sakereddingspraktisyns om die Poskantoor te likwideer verwerp en sê die stap sal daartoe lei dat meer as vyfduisend werkers hul werk verloor. Die vakbond se woordvoerder, Nathen Bowers, sê die Poskantoor kan nie toegelaat word om te misluk nie:
# Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Toerisme verwelkom opleidingspogings deur die Kultuur-, Kunste-, Toerisme-, Gasvryheids- en Sportsektor-onderwys- en opleidingsowerheid, maar sê méér moet gedoen word. Die voorsitter, Ronalda Nalumango, moedig nouer samewerking aan tussen die Departement van Toerisme en bedryfsvennote. Die komitee het ‘n omvattende, vraaggedrewe strategie vir vaardigheid aanbeveel wat in lyn is met behoeftes in die werkplek, verbeterde kurrikulumhersienings en uitgebreide digitale en gemeenskapsgebaseerde opleidingsprogramme om beter by die vereistes te pas en werksuitkomste te bevorder.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê Rand Water se jongste beslaglegging van die Emfuleni Munisipaliteit se bankrekening is die doodskoot vir hierdie administrasie. Dit volg nadat die munisipaliteit nie daarin kon geslaag om sy skuld van 300-miljoen-rand ten volle te vereffen nie en slegs 200-miljoen-rand kon betaal. Gerda Senekal van VF Plus sê daar is duidelik geen hoop meer vir die munisipaliteit nie:
# En nou internasionale nuus: Indien die olieprys die vlak van 150-dollar per vat bereik sal dit ‘n wêreldwye resessie veroorsaak. Larry Fink is die hoof van die Amerikaanse finansiëledienstegroep BlackRock. Hy het aan die BBC gesê as Iran ‘n bedreiging bly en oliepryse hoog bly, sal dit diepgaande implikasies vir die wêreldekonomie inhou. Fink glo indien die konflik opgelos kan word en Iran weer internasionaal aanvaar word, kan die prys terugval tot onder die vlakke voor die oorlog. Indien dit nie gebeur nie, kan die olieprys naby 150-dollar bly, wat tot ontstellende gevolge vir die ekonomie kan lei met ‘n moontlike skerp resessie.
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n historiese reeksoorwinning in Christchurch behaal nadat hulle Nieu-Seeland met 33 lopies in die vyfde en laaste T20-toets verslaan het. Die Proteas het eerste gekolf en ‘n stewige 187 vir vier aangeteken, aangehelp deur Connor Esterhuizen se sensasionele 75 van 33 balle. Nieu-Seeland het in hulle beurt gesukkel en op 154 vir agt geëindig. Die twee Suid-Afrikaanse draaiboulers, Keshav Maharaj en Prenelan Subrayen, het weer eens hul waarde bewys en die middelorde laat ineenstort. Die reeksoorwinning van 3-2 is Suid-Afrika se eerste bilaterale T20-reeksoorwinning ooit op Nieu-Seelandse bodem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-992-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….