Nuus 11:00
BULLETIN 25 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê die Reserwebank sal waarskynlik die rentekoerse handhaaf om prysbestendigheid te beskerm
# Minister Ramokgopa sê Eskom se doelwit is om ladingvermindering teen die einde van 2026 uit te skakel
# En krieket: Die Nieu-Seelandse vroue beklink die T20-reeks teen Suid-Afrika
# Suid-Afrika staar hernude inflasierisiko’s ondanks kortstondige markverligting in die gesig as gevolg van stygende brandstofkoste en invoerafhanklikheid. Frederick Mitchell van Aluma Capital sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee sal waarskynlik rentekoerse môre onveranderd laat, om prysbestendigheid te beskerm. Dit is te midde van verhoogde wêreldwye spanning en ‘n styging in oliepryse. Mitchell sê in ‘n koste-druk-omgewing sal ‘n voortydige verlaging die Rand net verder verswak, wat die koste van ingevoerde brandstof en kunsmis sal laat styg.
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy departement het in samewerking met Eskom, ‘n gestruktureerde program ontwikkel om ladingvermindering uit te skakel. Ramokgopa het gister in ‘n toespraak aan die Nasionale Vergadering gesê ladingvermindering word nie gedoen weens ‘n tekort aan opgewekte krag nie, maar ‘n as ‘n maatreël om die netwerk plek-plek te beskerm wanneer verspreiding oorbelas word. Volgens Ramogkopa is meer as 380-duisend slimmeters landwyd geïnstalleer, terwyl meer as 199-duisend verbruikers van die ladingsverminderingskedules verwyder is:
# ActionSA eis aanspreeklikheid na ‘n verdoemende verslag deur die Gesondheidsombud, voorkombare sterftes en sistemiese mislukkings by die Dr George Mukhari-akademiese hospitaal en Netcare Femina-hospitaal in Pretoria blootgelê het. Emma More van die party sê die bevindinge toon ‘n ineenstorting van pasiëntveiligheid, asook bestuur- en kliniese etiek. More het ‘n beroep gedoen op die provinsiale LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, om voor die wetgewer te verskyn en ‘n plan te verskaf om die regte en veiligheid van kwesbare pasiënte te beskerm:
# Iran sê nie-vyandige skepe mag deur die Straat van Hormoes vaar, mits hulle vooraf met die owerhede reëlings tref. Byna 20-persent van die wêreld se olie- en vloeibare natuurlike gas wat verskeep word, beweeg deur dié straat. Dié noodsaaklike brandstofroete is egter deur die Israels-Amerikaanse oorlog met Iran beïnvloed. Iran het gewaarsku dat geen skepe, toerusting of bates van die VSA, Israel of hul bondgenote in die konflik toegang tot die deurgang sal verkry nie.
# Krieket: Die Nieu-Seelandse Vrouespan het Suid-Afrika met 92 lopies geklop in die vyfde en laaste T20 in Christchurch en daarmee die reeks met 4-1 beklink. Kaptein Amelia Kerr se meesterlike 105 lopies van 55 balle het bygedra tot die Wit Varings se uiteindelike totaal van 194 vir ses in hul 20 boulbeurte. Die Protea-vrouespan is in hulle beurt beperk tot 102 vir nege. Annerie Dercksen met 23 lopies was die enigste kolwer wat meer as 20 kon aanteken. Die twee spanne vestig nou hulle aandag op die reeks van drie eendagwedstryde, wat Sondag in Christchurch begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-20-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-548-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….