Nuus 08:00
BULLETIN 25 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement aanvaar die 2026 Fiskale Raamwerk en Inkomstevoorstelle
# Twaalf senior polisiebeamptes is in hegtenis geneem in verband met Cat Matlala se kontrak
# En Donald Trump sê Vance en Rubio is betrokke by onderhandelinge met Iran
# Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies het die 2026 Fiskale Raamwerk en Inkomstevoorstelle aanvaar wat ‘n betekenisvolle stap in die nasionale begrotingsproses is. Die fiskale raamwerk sit die regering se makro-ekonomiese beleid vir die boekjaar uiteen, en sluit in inkomsteprojeksies, voorkeur-uitgawes en leningsvereistes. Die parlementêre komitee oor Finansies se voorsitter, Mkhacani Maswanganyi, beklemtoon die belangrikheid van fiskale dissipline en aanspreeklikheid:
# Die EFF het intussen die aanvaarding van die 2026 Fiskale Raamwerk en Inkomstevoorstelle verwerp en dit beskryf as ‘n vermorste geleentheid wat internasionale belange bo Suid-Afrikaanse lewens stel. ‘n Totaal van 227 lede van die Nasionale Vergadering het ten gunste van die raamwerk en inkomstevoorstelle gestem, 71 het daarteen gestem, en niemand het buite stemming gebly nie. In die Nasionale Raad van Provinsies het al die provinsies ten gunste gestem. Omphile Maotwe van die EFF sê die fiskale raamwerk is misleidend:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie het 12 hooggeplaaste polisiebeamptes en ‘n direkteur van ‘n maatskappy in hegtenis geneem. Hulle word betrek by die toekenning van ‘n polisiegesondheidskontrak van 360-miljoen-rand aan die vermeende misdaadbaas Vusimusi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare 24 Tshwane District. Matlala het na bewering top-polisiebeamptes, insluitend generaals, omgekoop om die toekenning van die kontrak te fasiliteer. Alle beskuldigdes sal na verwagting vandag in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.
# President Donald Trump sê visepresident JD Vance en die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, lei die onderhandelinge met Iran. Sy kommentaar volg ‘n dag nadat Iranse amptenare ontken het dat enige kontak met die VSA plaasgevind het en bewerings van gesprekke “vals nuus” is. Die Amerikaanse spesiale gesant Steve Witkoff en Jared Kushner neem ook deel aan die onderhandelinge. Dis egter nie bekend met wie hulle onderhandel nie. Trump is optimisties dat ‘n ooreenkoms in sig is, en het bygevoeg dat sy administrasie met die regte mense in Teheran praat:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, is deur na die kwarteindronde by die Miami Ope nadat hy die ongekeurde Amerikaner Alex Michelsen met 7-5, 7-6 geklop het. Die Italianer kom nou teen nog ʼn Amerikaner, Frances Tiafoe, te staan wat Terence Atmane van Frankryk verslaan het. Die Spaanse kwalifiseerder, Martin Landaluce, het met die 32ste gekeurde Amerikaner, Sebastian Korda, afgereken. In die vroueafdeling het die Tsjeg, Karolina Muchova, na die halfeindronde deurgedring nadat sy Victoria Mboko van Kanada geklop het.
# En En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-480-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-578-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….