Nuus 13:00
BULLETIN 24 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi is bekommerd oor die inhegtenisneming van ‘n Randburgse aanklaer weens bewerings van seksuele aanranding
# Coca-Cola verbind tot die versterking van sy beleggingsvoetspoor in Suid-Afrika
# En krieket: Ben Stokes sê hy het steeds ‘n passie om Engeland te lei
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, is bekommerd oor die hofverskyning van ‘n streeksaanklaer, Dinesh Nandkisoor, verbonde aan die Landdroshof in Randburg. Hy is gister in hegtenis geneem in verband met bewerings van seksuele aanranding. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê Nandkisoor is amptelik aangekla van seksuele aanranding, seksuele intimidasie, regsverydeling en twee aanklagte van korrupsie:
# Coca-Cola se president van die Afrika-bedryfseenheid, Luis Felipe Avellar, sê die onderneming is verbind tot die versterking van sy voetspoor in Suid-Afrika deur volgehoue belegging en innovering. ‘n Onafhanklike studie toon die Suid-Afrikaanse waardeketting het in 2024 meer as 51-miljard-rand bygedra tot ekonomiese bedrywighede en het meer as 87-duisend werksgeleenthede ondersteun. Avellar sê hulle huur, vervaardig, versprei en en koop waar moontlik plaaslik aan, wat help om ‘n sterker, meer geïntegreerde ekonomie te bou:
# Australië het ‘n mylpaal-vryhandelsooreenkoms ter waarde van byna 170-miljard-rand met die Europese Unie gesluit. Die ooreenkoms was agt jaar in wording en bykans alle EU-tariewe op Australiese landbouprodukte soos wyn, vrugte en groente, olyfolie en die meeste suiwelprodukte sal opgehef word. ‘n Nuwe Australië-EU-Veiligheids- en Verdedigingsvennootskap is ook aanvaar om samewerking in die verdedigingsbedryf, maritieme veiligheid, kuber en terrorismebekamping te bevorder. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê die handelsooreenkoms is tot voordeel van beide partye.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê die huidige leierskapsgroep, gelei deur afrigter Brendon McCullum, het die nodige passie en begeerte om die span na nuwe hoogtes te lei. Dit volg na die Engelse en Wallis Krieketraad bepaal het dat die afrigter Stokes, McCullum en besturende direkteur Rob Key in hul rolle sal bly na ‘n hersiening van die somber Ashes-reeks teen Australië. Stokes sê die afgelope drie maande was die moeilikste tydperk van sy kapteinskapsreis. Hy het erken hy het foute gemaak, maar sê hy het nog soveel om te gee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-986-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-407-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag is Wêreld-TB-dag en die tema is – ‘Yes! We can end TB!‘, ‘n bevestiging dat dit moontlik is om die Tuberkulose-epidemie te keer, selfs in ‘n uitdagende wêreldwye omgewing. Tuberkulose bly een van die wêreld se dodelikste aansteeklike siektes en het meer as 1,2-miljoen lewens geëis en slegs in 2024, is ‘n geskatte 10,7-miljoen mense geraak. Die direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Wêreldwye Tuberkulose-program, dokter Tereza Kasaeva, sê daar is rede vir hoop aangesien die aantal mense wat wêreldwyd siek word, steeds daal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….