Nuus 12:00
BULLETIN 24 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi is bekommerd oor die inhegtenisneming van ‘n Randburgse aanklaer weens bewerings van seksuele aanranding
# Minister Tau sê negatiewe geo-politieke gebeure sal nie Suid-Afrika se beleggingskonferensie ondermyn nie
# En rugby: Die All Blacks se afrigtingsgroep tot 2027 word bevestig
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, is bekommerd oor die hofverskyning van ‘n streeksaanklaer, Dinesh Nandkisoor, verbonde aan die Landdroshof in Randburg. Hy is gister in hegtenis geneem in verband met bewerings van seksuele aanranding. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê Nandkisoor is amptelik aangekla van seksuele aanranding, seksuele intimidasie, regsverydeling en twee aanklagte van korrupsie:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê geopolitieke verwikkelinge sal nie die komende sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie ondermyn nie. Die konflik in die Midde-Ooste verhinder sommige van die belangrikste afgevaardigdes om dit by te woon, maar van die aankondigings by die konferensie sal waarskynlik regstreeks gestroom word. Sowat een-duisend-250 afgevaardigdes word in persoon verwag. Tau sê hulle gee toe die uitwerking van die oorlog sal moontlik beleggingsbesluite beïnvloed:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê geweld teen leerders, hetsy binne of buite die skoolterrein, is onaanvaarbaar en mag nie geduld word nie. Dit volg na twee leerders in afsonderlike voorvalle noodlottig gesteek is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ‘n 17-jarige Graad 8-leerder van Forest High School is verlede Vrydag na bewering erg aangerand en doodgesteek. Hy sê in die tweede voorval is ‘n Graad 12-leerder van Daleview Secondary School in Ennerdale gister noodlottig gesteek toe hy van die skool af huis toe gestap het.
# Die Vryheidsfront Plus sê Gauteng se nuwe ekonomiese ontwikkelingsplan is tot mislukking gedoem as dit nie wegbeweeg van die ANC se ideologiese benadering om die ekonomie op ras eerder as meriete te bestuur nie. Die provinsiale regering het verlede week die Gautengse 2030 stads- en streeksplan vir ekonomiese groei en ontwikkeling bekendgestel. Anton Alberts van die VF Plus sê die provinsiale regering moet subnasionale bande met state in Amerika smee:
# Rugby: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Dave Rennie, het sy hulpafrigtingsgroep en Hoof van Prestasie aangewys om die span na die Wêreldbeker vir mans in 2027 te lei. Neil Barnes is aangestel as senior hulpafrigter, Jason Ryan is die voorspelers se afrigter, Mike Blair is aanvalsafrigter en Tana Umaga die verdedigingsafrigter. Die prestasiehoof is Phil Healey. Barnes, een van Nieu-Seeland se mees ervare afrigters, sê sy aanstelling is ‘n eer en ʼn groot uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-397-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….