Nuus 11:00
BULLETIN 24 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê negatiewe geopolitieke verwikkelinge sal nie Suid-Afrika se beleggingskonferensie ondermyn nie
# Minister Gwarube is bewus van die vermeende “baantjies vir boeties”-skema in haar departement
# En krieket: Engeland se afrigter Brendon McCullum behou sy pos ná ‘n hersiening van die Reeks om die As
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê geopolitieke verwikkelinge sal nie die komende sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie ondermyn nie. Die konflik in die Midde-Ooste verhinder sommige van die belangrikste afgevaardigdes om dit by te woon, maar van die aankondigings by die konferensie sal waarskynlik regstreeks gestroom word. Sowat een-duisend-250 afgevaardigdes word in persoon verwag. Tau sê hulle gee toe die uitwerking van die oorlog sal moontlik beleggingsbesluite beïnvloed:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê minister Siviwe Gwarube het kennis geneem van bewerings dat daar buite amptelike kanale gereelde kontak is tussen sekere amptenare in haar departement en ANC-politici. News24 berig ‘n fluitjieblaser-dossier het ʼn vermeende “poste-vir-kamerade”-skema ontbloot. Volgens die dossier het amptenare in die menslike hulpbronne-afdeling na bewering interne dokumente aan die parlementêre ANC-koukus gelek. Gwarube se woordvoerder, Lukhanyo Vangqa, sê die minister het die Spesiale Ondersoekeenheid gevra om leefstyloudits te doen van senior amptenare en dié in geïdentifiseerde risiko-areas.
# Die vakverbond Cosatu verwelkom die Appèlhof-uitspraak wat Eskom beveel om besonderhede oor voorsieningskontrakte van miljarde rande bekend te maak. Die hof het die kragverskaffer se appèl met koste van die hand gewys en die Gautengse Hooggeregshof se beslissing bevestig dat AfriForum toegang moet kry tot sekere steenkool-, diesel- en vervoerkontrakte. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê as ʼn staatsinstelling is Eskom verplig om deursigtig te wees oor sy kontrakte:
# Die dodetal nadat ʼn vliegtuig van die Colombiaanse lugmag neergestort het, het tot 66 gestyg terwyl tientalle beseer is. Die Amerikaans-vervaardigde C-130 Hercules-vliegtuig het neergestort kort nadat dit by Puerto Leguízamo, diep in Colombië se Amasone-streek, opgestyg het. Daar was 114 weermaglede en elf bemanningslede aan boord. Die slagoffers sluit 58 soldate, ses lugmagpersoneel en twee polisiebeamptes in. President Gustavo Petro sê die voorval moes nooit plaasgevind het nie. Hy blameer burokratiese probleme wat keer dat hy sy planne uitvoer om die gewapende magte se toerusting en vliegtuie op te gradeer.
# Krieket: Die Engelse- en Wallis-krieketraad het ‘n regmerkie gegee vir die bestuurspan van die hoofafrigter, Brendon McCullum, die kaptein, Ben Stokes, en die direkteur van krieket, Rob Key, ná ‘n interne hersiening van die reeks om die As. Engeland het met 1-4 die onderspit gedelf in die reeks teen Australië wat gekenmerk is deur swak beplanning, onder-standaard vertonings en insluitend beskuldigings van ‘n drinkkultuur in die Engelse span. Key sê die raad se gevolgtrekking was dat dit nie die regte besluit sou wees om McCullum in die pad te steek nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-731-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-409-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….