Nuus 11:00
BULLETIN 27 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oproepe neem toe vir die hervorming van die monetêre beleidskomitee om Suid-Afrika se bevolking te weerspieël
# Die Kaapse Wynland-brandweerdienste bestry brande in die Breedevallei en Witzenberg
# En, rugby: Die Blitsbokke is deur Argentinië geklop in die laaste groepwedstryd van die Perth Sewes
# Ekonome vra hervorming van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee en wys op die uitwerking van hoë rentekoerse op huishoudings. Die ekonomiese raadgewer Roelof Botha het met eNCA gepraat en gesê die komitee moet die bevolking reflekteer en aan hulle behoeftes voldoen. Botha stel voor die komitee moet verbreed word om verteenwoordigers in te sluit van instellings wat betrokke is by onderhandelings oor rentekoerse, soos die Bankvereniging en die SA Kamer van Handel en Nywerheid. Dit sal sorg vir ‘n meer volledige en inklusiewe benadering to besluitneming:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se brandweerdienste, in samewerking met hulle vennote, is aktief besig om twee brande in die Breedevallei- en Witzenberg-gebiede te bestry. Volgens die woordvoerder, Jo-Anne Otto, beweeg die brandlyne in die Bainskloof-omgewing na Steenbokpark, terwyl die tweede brandlyn aan die Gouda/Saron-kant van die berg woed. Intussen woed die brand in Fairy Glen, Worcester, ook steeds buite beheer:
# ‘n Hof in Singapoer het ‘n Suid-Afrikaanse man tot twee jaar tronkstraf gevonnis vir die smokkel van renosterhorings. Dit is die swaarste vonnis wat ooit daar opgelê is vir hierdie soort misdaad. Singapoer se Nasionale Parkeraad sê Gumede Joel is in 2022 op die Changi-lughawe in hegtenis geneem nadat owerhede 20 renosterhorings ter waarde van meer as 16-miljoen-rand in sy bagasie onttdek het. Joel was op reis vanaf Suid-Afrika na Laos deur Singapoer. Hy is gevonnis op twee aanklagte van reis met renosterhorings sonder ‘n geldige permit.
# Rugby: Die Blitsbokke het hulle laaste Groep A-kragmeting vroeër vanoggend in Perth teen Argentinië verloor, maar staan nog ‘n kans in die Beker-kwarteindstryd. Suid-Afrika het met 19-5 verloor nadat hulle met rustyd 14-5 agter was. Die Blitsbokke het tweede geëindig in Groep A na Argentinië. Beide spanne is deur na die Beker-kwarteindstryd met Suid-Afrika wat teen Fidji te staan sal kom in die een kwarteindstryd.
# En, laastens: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens herdenk Nasionale Polisiedag deur fondse in te samel vir die kinders van polisiebeamptes wat hul lewens in die uitvoering van hul pligte verloor het. Meer as 100 gholfspelers van verskeie korporatiewe maatskappye het beloof om geld in te samel vir die Suid-Afrikaanse Polisie-onderwys-trustfonds. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, bevestig ‘n totaal van 6,6-miljoen-rand is beloof om die opvoedkundige behoeftes van die kinders te steun. Sy sê die fondse wat ingesamel word, sal bydra om die welstand te verseker van die kinders van vermoorde polisiebeamptes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….