Nuus 09:00
BULLETIN 24 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen verwelkom die vinnige ingryping om die invoer van entstowwe te bespoedig
# Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika ondersteun die beleggingsveldtog
# En ten minste 34 is dood in ‘n Colombiaanse militêre vliegtuigongeluk
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwelkom die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte se vinnige ingryping om ses-miljoen Dollvet-entstofdosisse teen bek-en-klouseer in te voer. Dit volg nadat ‘n Artikel 21-permit Vrydag vir twee-miljoen dosisse uitgereik is, terwyl nog twee permitte vir die orige vier-miljoen dosisse uitgereik sal word. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die geleidelike verkryging van bek-en-klouseer-entstowwe is ʼn logistiese noodsaaklikheid weens die Midde-Oosterse konflik:
# Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika sê hy posisioneer hom as die privaat sektor se toegangspunt tot Suid-Afrika se agterstand met infrastruktuur. Die bank is die hoofborg van die komende Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie wat sedert 2018 beloftes van 1,56-duisend-miljard-rand se beleggings oor al nege provinsies en verskeie sektore geregistreer het. Die bank se uitvoerende hoof, Boitumelo Mosako, sê hulle het reeds 23-miljard-rand deur bilaterale finansieringsinstellings vir grootmaatwaterprojekte verseker:
# Die ANC in Tshwane het die DA se plan om die Madlanga-kommissie te nader oor beweerde korrupsie, verwerp. Dit volg na verdoemende bewerings teen die Stad Tshwane-amptenare rakende tenders. Die DA Tshwane-koukusleier, Cilliers Brink beweer die adjunkburgemeester, Eugene Modise het onverklaarde belange in sekuriteit- en watertenkfirmas. Die ANC-woordvoerder Joel Masilela sê egter die bewerings is polities gedrewe en voer aan die DA het versuim om op te tree teen beweerde oortredings terwyl hulle aan bewind was.
# Minstens 34 mense is gister dood toe ʼn militêre vliegtuig kort na opstyging in die suide van Colombië neergestort het. Die C-130 Hercules-vliegtuig met 114 weermaglede en elf bemanningslede aan boord, het aan die brand geslaan toe dit naby Puerto Leguízamo neergestort het. Meer as 80 mense is beseer. Colombië se minister van Verdediging, Pedro Sánchez, sê die oorsaak word nog ondersoek, maar hulle kon reeds vasstel dat die ongeluk nie veroorsaak is deur enige van die talle gewapende groepe wat die land teister nie.
# Tennis: Die wêreld se tweede beste speler, Jannik Sinner, het na die Miami Ope se ronde van 16 deurgedring in sy poging om die eerste speler sedert Roger Federer in 2017 te word wat die Sonskyn Dubbel agter sy naam kan skryf. Die Italianer het die Fransman Corentin Moutet verslaan. Frances Tiafoe van Amerika het die verdedigende kampioen, Jakub Mensik, van die Tsjeggiese Republiek uitgeskakel, terwyl Francisco Cerundolo van Argentinië met Daniil Medvedev van Rusland klaargespeel het. In die vroue-afdeling het die wêreld se nommer een, Aryna Sabalenka van Belarus, en die Amerikaner Coco Gauff, na die kwarteindrone deurgedring.
#En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-628-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-349-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….