Nuus 07:00
BULLETIN 24 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau beskryf SA-VSA verhoudings as wisselvallig
# Die ANC oorweeg ‘n klag teen die Sunday Times
# En Keir Starmer sê Brittanje sal nie by die oorlog in Iran ingesleep word nie
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika gaan voort om met Amerika oor handelskwessies te onderhandel. Suid-Afrika was onlangs onder 60 ekonomieë wat die Verenigde State se handelsverteenwoordiger wil ondersoek om vas te stel of voldoende stappe gedoen is om invoer van goedere wat met dwangarbeid vervaardig is, te verbied. Tau het tydens ‘n mediakonferensie oor die staat van gereedheid vir die komende Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie in Pretoria die verhouding met Amerika as wisselvallig beskryf:
Tau sê die regering is gereed om op 31 Maart die sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie by die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg aan te bied. Afgevaardigdes van meer as 30 lande het geregistreer om dit by te woon. Tau sê die eerste vyfjaar-beleggingsveldtog van 2018 tot 2023 was ʼn groot sukses en Suid-Afrika het beleggingsbeloftes van 1,56-duisend-miljard-rand ontvang. Hy sê dis 26-persent meer as die president se oorspronklike teiken:
# Die ANC sê hy oorweeg ‘n formele klag by die persombud teen die Sunday Times en TimesLIVE oor wat hy misleidende beriggewing noem. Die party het bewerings verwerp dat hy probeer het om in te meng met SABC-programmering en die bewerings as ongegrond beskryf. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu het ook die publikasies gekritiseer omdat hulle nie kommentaar gevra het voordat hulle die storie gepubliseer het nie. Bhengu beskryf dit as ‘n skending van media-etiek.
# Die gesondheidsombud het die George Mukhari Akademiese Hospitaal gekritiseer oor die dood van ‘n 35-jarige psigiatriese pasiënt Lerato Mohlamme, en ernstige mislukkings in sorg en pasiëntveiligheid aangehaal. Die ondersoek het sistemiese nalatigheid bevind, insluitend onbehoorlike toelatingsprosedures, verkeerde hantering van medikasie en onvoldoende monitering. Dit het ook bewerings van ongerapporteerde mishandeling uitgelig. Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê korrektiewe maatreëls word geïmplementeer, insluitend meer personeel en verbeterde sekuriteit, terwyl owerhede werk om die geïdentifiseerde tekortkominge aan te spreek.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het herhaal die Verenigde Koninkryk gaan nie by die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran betrek word nie. Hy het gister voor die Laerhuis-skakelkomitee verskyn waar hy berigte van onderhandelinge tussen Amerika en Iran verwelkom het. Starmer het aan die komitee gesê enige Britse optrede in hierdie oorlog moet wettig wees en ondersteun word deur ʼn haalbare, weldeurdagte plan. Hy sê die Verenigde Koninkryk en sy bondgenote sal voortgaan om in hul eie gesamentlike selfverdediging op te tree:
# Tennis: Die sesmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, en haar afrigter, Wim Fissette, se paaie skei. Dit volg enkele dae nadat die Poolse wêreld-nommer-drie in die tweede ronde van die Miami Ope uitgeskakel is. Swiatek en Fissette het in Oktober 2024 kragte saamgesnoer en saam met die Belg het Swiatek haar eerste Wimbledon-titel gebuit. Die 24-jarige speler het verlede jaar onder Fissette se afrigting ook WTA-toernooi-titels by Seoel en Cincinnati opgeraap. Swiatek sê die res van haar span bly onveranderd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-743-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….