Nuus 17:00
BULLETIN 23 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum wen ‘n hofgeding oor toegang tot Eskom se steenkoolkontrakte
# Die voormalige EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi pleit vir die beskerming van Nhlanhla Mkhwanazi te midde van politieke konflik
# En, ‘n Duitse hof verwerp ‘n poging om Mercedes en BMW se fossielbrandstofmotors te verbied
# AfriForum het ‘n regsoorwinning behaal wat Eskom dwing om sy steenkool-, diesel- en elektrisiteitsvoorsieningskontrakte bekend te maak. Die Appèlhof in Bloemfontein het Eskom se poging om ‘n uitspraak van 2024 tersyde te stel, met koste van die hand gewys. Eskom moet nou die aangevraagde dokumente verskaf. Morné Mostert van AfriForum sê die besluit sal ondersoek na verkrygingsprosesse moontlik maak en deursigtigheid bevorder oor hoe openbare fondse bestee word:
# Die politieke ontleder en voormalige EFF-parlementslid, Mbuyiseni Ndlozi, het Suid-Afrikaners versoek om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi te beskerm, en waarsku die versuim om verklikkers te verdedig, kan die land in ‘n mafia-staat verander. Sy opmerkings volg nadat die EFF-leier Julius Malema kritiek gelewer het en korrupsie-aantygings van die hand gewys het. Hy het Mkhwanazi as ‘n lafaard bestempel. Ndlozi sê die fokus moet bly op die blootlegging van beweerde misdaad-netwerke binne die polisie- en politieke strukture.
# Omgewingsbewustes het vandag ‘n terugslag gely toe die Appèlhof in Duitsland hul sake van die hand gewys het, waarin gevra word dat Mercedes-Benz en BMW vanaf November 2030 verbied word om nuwe motors met verbrandingsenjins te verkoop. Die Federale Hof in Karlsruhe het Laerhofuitsprake teen die regsgedinge gehandhaaf, wat deur drie besturende direkteure van ‘n omgewings- en verbruikersbeskermingsvereniging aanhangig gemaak is. Die liggaam het sy saak regverdig met ‘n “koolstofbegroting” wat bereken is vir albei motorvervaardigers. Die hof het egter beslis geen so ‘n begroting is aan individuele ondernemings toegewys nie. Beide Mercedes-Benz en BMW verwelkom die uitspraak en beklemtoon hul verbintenis tot volhoubaarheid.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is vol vertroue dat sy spel verbeter ten spyte van sy nederlaag teen Sebastian Korda by die Miami Ope. Alcaraz sê na ‘n paar dae om te herstel, sal hy op die kleibaanseisoen fokus. Danksy sy 2026 Australiese Ope-titel is die 22-jarige nou die jongste man ooit met ‘n loopbaan-Grand Slam. Alcaraz sê spelers ver onder hom op die ranglys, speel sonder enige druk teen hom en hy probeer om te verhoed dat dit spanning op hom plaas. Hy sê hy is vol vertroue dat hy steeds op die regte pad is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-684-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-438-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-32-sent per vat.
# En laastens, die Departement van Gesondheid doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om gereelde oogtoetse te prioritiseer om sigverlies te voorkom. Die departement vier vandag Wêreldoptometriedag en beklemtoon die belangrikheid van vroeë opsporing van oogsiektes soos katarakte en gloukoom. Foster Mohale van die departement sê ongesonde lewenstyl en onbeheerde diabetes verhoog die risiko van oogsiektes, en hy moedig die publiek aan om gesonder gewoontes aan te kweek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….