Nuus 16:00
BULLETIN 23 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Arbeidshof gelas Mkhwanazi se dissiplinêre verhoor kan voortgaan
# Die DA gee mislukkings by die Rooiwal-aanleg die skuld vir werkverliese en besoedeling
# En tennis: Carlos Alcaras het sy oog nou op die kleibaanseisoen na sy vroeë uitskakeling in Miami
# Die Arbeidshof het die geskorste adjunkhoof van die Metropolisie in Ekurhuleni, Julius Mkhwanazi, se dringende versoek om sy dissiplinêre verhoor te staak, van die hand gewys. Mkhwanazi het aangevoer die proses was onregmatig en beweer dit is gebaseer op ‘n dienskontrak wat beëindig is. Die hof het egter die aansoek van die hand gewys wat die Ekurhuleni-munisipaliteit nou toelaat om voort te gaan met die verhoor. Geen kostebevel is uitgereik nie. Die uitspraak volg terwyl Mkhwanazi steeds by die Madlanga-kommissie ondersoek word oor beweerde wangedrag wat verband hou met sy ampstermyn by die Ekurhuleni-metropolisie.
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid versoek ‘n onmiddellike wapenstilstand in die Midde-Ooste. Die uitvoerende hoof, Alan Mukoki, waarsku die konflik ontwrig wêreldhandel, verhoog oliepryse en bedreig voorsieningskettings. Hy sê die oorlog kan inflasie en rentekoersverhogings aanwakker, wat Suid-Afrika se ekonomie kan beïnvloed. Hy vra alle partye om diplomasie te volg en vra president Cyril Ramaphosa om internasionale vredespogings te ondersteun:
# Die DA sê die mislukkings by die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg in Tshwane lei tot werkverliese en omgewingskade. Die DA-lid, Bronwynn Engelbrecht, sê die aanleg is skaars operasioneel ondanks stadsamptenare se versekerings. Engelbrecht beweer besoedeling beïnvloed die Apiesrivier wat landbou, toerisme en waterlewe benadeel, aangesien boere op watertenkwaens moet staatmaak namate die besoedeling versprei. Sy doen ‘n beroep vir dringende ingryping en verantwoordbaarheid om die aanleg te herstel en lewensonderhoud te beskerm.
# President Donald Trump sê hy het die Amerikaanse weermag opdrag gegee om alle militêre aanvalle teen Iranse kragsentrales en energie-infrastruktuur uit te stel, ná twee dae van gesprekke met Iran. Die president het op Truth Social gesê die uitstelling sal vyf dae duur en is onderhewig aan die sukses van voortgesette vergaderings en onderhandelings om die oorlog te beëindig. Dit volg na ‘n ultimatum aan Iran dat Amerika sy kragsentrales sal “uitwis” tensy hy sy sluiting van die Seestraat van Hormoes binne 48-uur beëindig, ‘n sperdatum wat later vandag sou verstryk.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is vol vertroue dat sy spel verbeter ten spyte van sy nederlaag teen Sebastian Korda by die Miami Ope. Alcaraz sê na ‘n paar dae om te herstel, sal hy op die kleibaanseisoen fokus. Danksy sy 2026 Australiese Ope-titel is die 22-jarige nou die jongste man ooit met ‘n loopbaan-Grand Slam. Alcaraz sê spelers ver onder hom op die ranglys, speel sonder enige druk teen hom en hy probeer om te verhoed dat dit spanning op hom plaas. Hy sê hy is vol vertroue dat hy steeds op die regte pad is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-664-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-438-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….