Nuus 15:00
BULLETIN 23 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisiebeampte word gevra waarom hy in besit was van sakeman Matlala se bankkaart
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel vra ‘n wapentilstand te midde van die toenemende konflik in die Midde-Ooste
# En rugby: Die Bok-vroue kwalifiseer vir die Sewes-Wêreldkampioenskapsreeks
# Die lid van die Eenheid vir Georganiseerde Misdaad in Gauteng, Fannie Nkosi, het voor die Madlanga-kommissie getuig die polisie het hom ondervra oor die sakeman Vusimuzi Matlala se bankkaart tydens ‘n klopjag by sy huis. Nkosi sê hy het dieselfde dag ‘n vrywillige verklaring afgelê, nadat hy gevra is oor waar Matlala is. Ondersoekbeamptes het skakels na ‘n bankkaart ondersoek wat glo in ‘n boot ontdek is:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid versoek ‘n onmiddellike wapenstilstand in die Midde-Ooste. Die uitvoerende hoof, Alan Mukoki, waarsku die konflik ontwrig wêreldhandel, verhoog oliepryse en bedreig voorsieningskettings. Hy sê die oorlog kan inflasie en rentekoersverhogings aanwakker, wat Suid-Afrika se ekonomie kan raak. Hy vra alle partye om ‘n diplomatieke roete te volg en versoek president Cyril Ramaphosa om internasionale vredespogings te ondersteun:
# Die Nasionale Veeboerevereniging het ‘n beroep gedoen vir dringende beleggings in waterinfrastruktuur om voedselsekerheid te beskerm. Afrika vier vanjaar die Jaar van Water en Sanitasie. Florence Nherera van die vereniging sê beperkte toegang tot water tydens droogtes veroorsaak hongersnood by diere, verminderde vleisvoorraad en stygende pryse. Nherera het beklemtoon veeboerdery dra tot 60-persent by tot die bruto binnelandse produk in landbou, maar beleggings is skaars. Sy beklemtoon die behoefte aan verbeterde waterinfrastruktuur, besproeiingstelsels en toegang tot skoon water om produksie te verseker.
# Kuba se kragnetwerk het vir die derde keer hierdie maand ineengestort, en die land sonder elektrisiteit en in duisternis gelaat. Die onderbreking kom te midde van die kommunistiese regering se voortgesette stryd weens ‘n Amerikaanse olieblokkade en vervalle infrastruktuur. Daar was Saterdag ‘n totale kragonderbreking op die eiland. Dit is veroorsaak deur die onverwagte ineenstorting van ‘n opwekkingseenheid by die Nuevitas-termoëlektriese aanleg in die Camaguey-provinsie. Die netwerkoperateur en staatsnutsmaatskappy Union Electrica het Sondag gesê mikrostelsels in alle gebiede is weer operasioneel, met werk onderweg om die res van die netwerk te herstel.
# Rugby: Die Springbok-vroue sewesspan het gekwalifiseer vir die drie toernooie in Hong Kong, Valladolid en Bordeaux, wat deel uitmaak van die Sewes-Wêreldkampioenskapsreeks die einde van jaar. Suid-Afrika het die naweek derde geëindig in Montevideo in Uruguay, en drie van hul vyf wedstryde gewen. Argentinië, Duitsland en die VSA het ook vir die kampioenskap gekwalifiseer. Bok-vroue se afrigter Cecil Afrika sê hy is tevrede met die algehele prestasie van sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-695-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-381-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….