Nuus 09:00
BULLETIN 23 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die kaping van die SABC is ‘n bedreiging vir demokratiese verantwoordbaarheid
# Nog twee liggame is uit die Ekapa-myn in Kimberley verwyder
# En ICE-agente word by Amerikaanse lughawens ontplooi
# Die MK-party sê die SABC se kaping, of dit deur intimidasie, sensorskap of strategiese aanstellings is, is ‘n regstreekse bedreiging vir demokratiese aanspreeklikheid en persvryheid in Suid-Afrika. Dit volg na bewerings dat die openbare uitsaaier onder druk van die Presidensie en die ANC die gewilde program oor aktuele sake, Face the Nation, gekanselleer het. MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê objektiewe beriggewing en vreeslose ondervraging van mense in gesagsposisies kan nie op die altaar van politieke gedienstigheid geoffer word nie:
# Die vakverbond, Sadtu, sê die SABC is nie die regerende party se spreekbuis nie en mag dit nooit word nie. Die openbare uitsaaier loop deur onder kritiek oor sy besluit om die gewilde politieke geselsprogram, Face the Nation, weens vermeende politieke druk te sluit. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê hierdie verwikkeling is nie ʼn geïsoleerde voorval nie, maar deel van ʼn lang en ontstellende patroon van politieke inmengery, sensorskap en manipulasie by die SABC:
# Die liggame van nog twee mynwerkers wat ondergronds in die Ekapa-myn by Kimberley in die Noord-Kaap vasgekeer was, is uit die myn gehaal. Vyf mynwerkers het verlede maand vermis geraak tydens ‘n modderstorting in die myn. Die eerste liggaam is verlede week verwyder. Die maatskappy sê opsporingspanne het nou die liggaam van die vierde werker gevind en het begin om die oorskot omsigtig te verwyder. Spanne gaan nou ook die laaste gedeelte van die myn fynkam waar die vyfde werker se liggaam vermoedelik is.
# President Donald Trump van Amerika sê immigrasie- en doeane-agente gaan landwyd by lughawens ontplooi word om met skarebeheer te help en die Vervoer-sekuriteitadministrasie te ondersteun. Dit volg nadat passasiers die afgelope tyd ure lank by sekuriteitbeheerpunte op lughawens moes wag weens die gedeeltelike sluiting van die Departement van Binnelandse Veiligheid. Meer as 400 vervoersekuriteitagente het volgens berigte hul werk verlaat sedert die gedeeltelike regeringsluiting begin het. Hartsfield-Jackson Atlanta Internasionale Lughawe, wat die wêreld se besigste lughawe vir passasiervervoer is, word die swaarste getref.
# Sokker: Manchester City het die voorlopers in die Premier-liga, Arsenal met 2-0 geklop om die Carabao-beker in die Wembley-stadion in Londen ‘n negende keer in te palm. Die 21-jarige Nico O’Reilly het twee doele aangeteken om die sege vir City te verseker en het die derde jongste speler geword wat ‘n tweetal in ‘n liga-eindstryd ingeskop het. Arsenal, daarteenoor, het die geleentheid deur sy vingers laat glip om sy eerste trofee sedert die FA-beker in 2000 te wen. Die bestuurder van City, Pep Guardiola, wat nou vyf keer saam met City die trofee verower het, sê dit was ‘n taai stryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-67-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-360-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….