Nuus 07:00
BULLETIN 23 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê openbare werkverskaffingsprogramme moet nie afhanklikheid verskans nie
# Adjunkminister veroordeel verskaffers wat ekstra geld vra vir voorafbetaalde elektrisiteit
# En krieket: Die Proteas klop Nieu-Seeland om die T20-reeks gelykop te maak
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê ware vordering word nie in statistieke gemeet nie, maar in lewens wat opgehef word, waardigheid wat herstel word en hoop wat hernu word. Mashatile het NEDLAC se jaarlikse georganiseerde arbeidskool in Pretoria toegespreek. Hy sê Suid-Afrikaanse openbare indiensnemingsprogramme mag nie afhanklikheid vestig nie. Hy voeg by dat die regering roetes na vaardighede, werkservaring en langtermyngeleenthede moet skep:
# Die SABC ontken dat politieke druk bygedra het tot die besluit om die program oor aktuele sake, Face the Nation met aanbieder Clement Manyathela, te staak. Die Sunday Times berig die besluit is geneem weens politieke druk van die Presidensie en die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, omdat amptenare glo gekla het Manyathela is te ontoegeeflik teenoor hulle. Die SABC sê hy hersien gereeld sy inhoud en maak aanpassings in ooreenstemming met bedryfsnorme. Hy sê programbesluite word gelei deur prestasie-aanduiers en strategiese oorwegings.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Sport, Kuns en Kultuur het sy kommer uitgespreek oor die voortslepende staking by die Nasionale Kunsteraad. Werkers sê hulle word meer as ‘n miljoen-rand se bonusse geskuld vir die drie boekjare van 2019/2020 tot 2021/2022. Die komiteevoorsitter, Joe McGluwa, sê hierdie staking moet onmiddellik beëindig word omdat die instelling arm kunstenaars ondersteun wat geen alternatiewe inkomste het as die bedryf nie hulle kunsvermoë ondersteun nie. Die staking duur reeds ses dae lank.
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, veroordeel spazawinkels en verkopers van voorafbetaalde krag wat kopers onwettig ekstra geld vra wanneer hulle krag koop. Sy sê die departement is hiervan in kennis gestel tydens die onlangse vergaderings met die gemeenskappe van Adendorp en Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap. Die adjunkminister sê dis onwettig en moet stop:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Iran het weereens bewys hy is die beskawing se vyand en ʼn gevaar vir die vrye wêreld, want hy gebruik terreurmissiele om kinders, gesinne en bejaardes te teiken. Netanyahu het gister die terrein van Saterdag se missielaanval in die suidelike stad Arad besoek waar 115 mense gewond is. Hy sê Iran teiken burgerlike gebiede want hulle doel is om burgerlikes te vermoor. Hy sê hulle sal voortgaan om die Iranse regime te beveg:
# Krieket: Suid-Afrika het Nieu-Seeland in die vierde T20 in Wellington met 19 lopies verslaan om die reeks van vyf wedstryde gelykop met twee elk te maak. Connor Esterhuizen het sy eerste vyftigtal behaal met 57 van 36 balle en die Proteas het ʼn beskeie 164 vir vyf op die telbord geplaas. Daarna het Gerald Coetzee drie paaltjies platgetrek en die nuweling en wegbreekbouler, Prenelan Subrayen, twee. Die Swartpette was binne 19 boulbeurte op 145 almal uit. Die reeks word Woensdag in Christchurch beslis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-673-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-388-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….