Nuus 08:00
BULLETIN 22 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se Grondwet is meer as net die hoogste wet van die land
# Donald Trump stel ’n ultimatum aan Iran, en 75 is beseer in vuurpylaanvalle op stede in die suide van Israel
# En rugby, die Haaie vee Munster plat, en die Leeus verwoes Edinburgh
# President Cyril Ramaphosa sê toe die Grondwet 30 jaar gelede as wet bekragtig is, was dit die betekenisvolste oomblik in Suid-Afrika se demokratiese era. Ramaphosa het by die Menseregtedag-viering in Kimberley in die Noord-Kaap gepraat. Hy sê dit was ‘n morele verbintenis om ʼn samelewing te bou wat op gelykheid, vryheid en menswaardigheid gebaseer is. Die president sê Suid-Afrika se Grondwet is meer as net die hoogste wet van die land:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het ‘n beroep op reisigers gedoen om persoonlike verantwoordelikheid te neem wanneer hulle die paaie gedurende die komende vakansiedae gebruik. Creecy sê die Paasvakansie word gekenmerk deur ‘n toename in verkeer op hoofroetes namate reisigers verskeie godsdienstige en vakansiebestemmings aanpak. Sy sê meer as 80-persent van padongelukke is die regstreekse gevolg van menslike gedrag. Creecy sê vanjaar sal daar ‘n fokus wees op die voorkoming van voetgangers wat snelweë oorsteek en daarop loop:
# Die DA verwelkom die besluit deur die Mededingingskommissie om sy bevindinge oor prysvasstelling in die nommerplaatbedryf na die Mededingingstribunaal te verwys vir ‘n finale bevel. Die party sê die betrokke firmas, wat nommerplate vervaardig, word beskuldig dat hulle sedert Junie 2023 pryse en handelsvoorwaardes in die bedryf vasgestel het. Mlondi Mdluli van die DA sê dit stoot pryse vir Suid-Afrikaners hoër, ondermyn mededinging en keer dat nuwe ondernemings in die nommerplaatbedryf ontstaan.
# Tshwane-metropolisie se adjunkkommissaris, Umashi Dlamini, is geskors ná ernstige bewerings teen hom by die Madlanga-ondersoekkommissie. ʼn Polisiewoordvoerder, Isaac Mahamba, sê Dhlamini was verantwoordelik vir Ondersteuning en Administrasie in die Metropolisie. Hy sê adjunkkommissaris Dhlamini se naam is in verrigtinge voor die Madlanga-kommissie genoem, tydens bewerings oor tenderonreëlmatighede:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn ultimatum aan Iran gestel om die Straat van Hormoes binne 48 uur te open. Hy waarsku in ʼn inskrywing op Truth Social dat indien Iran weier, Amerika verskeie kragaanlegte sal uitwis. Iran se bedreiging in die Straat van Hormoes het die skeepsroete vir alle praktiese doeleindes gesluit en oliepryse die hoogte laat inskiet. Israel se ambulansdiens sê intussen 75 mense is beseer ná Iranse aanvalle op die stede Arad en Dimona in die suide van Israel. Israel se lugverdediging kon nie die vuurpyle onderskep nie.
# En ten slotte rugby: Twee Suid-Afrikaanse spanne het gister Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde gespeel. In Durban het die Sharks ‘n oortuigende 45-0 bonuspunt-oorwinning oor Munster behaal. Die tuisspan se sewe drieë is deur Phepsi Buthelezi, Luan Gilliomee, Phatu Ganyane, Emile van Heerden en Le Roux Malan gedruk, met Makazole Mapimpi, wat twee keer oorgeduik het. En op hulle tuisveld by Ellispark het die Leeus skitterende rugby gespeel en Edinburgh met 54-17 ore aangesit. Ruan Venter, Franke Horn, Darrien Landsberg, Morne van den Bergh, Bronson Mills en Haashim Pead het elk ‘n drie gedruk, met Angelo Davids wat twee bygevoeg het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….