Nuus 13:00
BULLETIN 21 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Barbara Creecy sê die regering maak vordering met die vermindering van padongelukke
# Premier Winde sê daar is voldoende brandstofvoorraad in die Wes-Kaap
# En ‘n Amerikaanse regter beslis teen beperkende mediatoegang tot die Pentagon
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering maak vordering met die vermindering van padongelukke, met die jongste voorlopige data vir die tydperk van 1 Januarie tot 15 Maart vanjaar wat ‘n afname van 11-persent in ongelukke toon in vergelyking met dieselfde tydperk in 2025. Sy was by die bekendstelling van die 2026 Arrive Alive Paasfees-padveiligheidsveldtog op die N3, naby die Spruitview-afrit, in die Oos-Rand. Creecy sê sterftes het met 10-persent afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Adjunkpresident Paul Mashatile en die president van Suid-Soedan, Salva Kiir Mayardit, het gister tydens die bilaterale vergadering in Pretoria aangekondig dat hulle die verbetering van lugverbindings eerste stel. Die waarnemende woordvoerder vir die adjunkpresident, Keith Khoza, sê dit sluit pogings in om regstreekse vlugte tussen Suid-Afrika en Juba te vestig. Gesprekke word volgens berigte tans met lugdienste gevoer en ‘n omvattende lugvaart-samewerkingsplan word in die komende maande verwag:
# Die Wes-Kaapse regering neem kennis van die kommer oor die uitwerking van die Midde-Oosterse konflik op brandstofvoorraad in die provinsie. Premier Alan Winde het inwoners egter verseker dat daar voldoende brandstofvoorraad in die Wes-Kaap is om aan die vraag te voldoen. Winde sê die enkele verslae van tekorte is te wyte aan verskaffers wat nie brandstof aan kliënte vrystel nie, wat die landbousektor beïnvloed:
# COSATU staan op Menseregtedag saam met miljoene Suid-Afrikaners om erkenning te gee aan die bereiking van die land se welverdiende demokrasie. COSATU se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die dag dien as ‘n herinnering aan die bloed wat in 1960 in Sharpeville en KwaLanga vergiet is om die stelsel van rasse-skeiding teen te staan:
# ‘n Amerikaanse federale regter het Vrydag die Pentagon-mediatoegangsbeleid waarvolgens akkreditasies van vooraanstaande media-organisasies teruggetrek is, as ongrondwetlik verklaar. Die beleid het ook vereis dat joernaliste deur amptelike begeleiers vergesel word as hulle buite ‘n beperkte aantal gebiede in die Pentagon wou beweeg. Die regter in Washington sê hoewel nasionale veiligheid beskerm moet word, is dit noodsaaklik vir die publiek om toegang tot inligting van die Departement van Verdediging te hê. Agt media-organisasies moes vroeër hul kantoorruimtes in die Pentagon ontruim, insluitend CNN, The Washington Post en The New York Times.
# En tennis: Jack Draper van Brittanje het gister ‘n verrassende nederlaag gely teen die Amerikaner Reilly Opelka in die tweede ronde van die Miami Ope, terwyl Ethan Quinn die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal het deur die 11de gekeurde Casper Ruud te klop. Die mans se topgekeurde Carlos Alcaraz is steeds op koers vir sy titel en deur na die volgende ronde met ‘n oorwinning oor die Brasiliaanse tiener Joao Fonseca. Verskeie wedstryde is as gevolg van reën tot vandag uitgestel. In die vroue-afdeling het Aryna Sabalenka, Elena Rybakina, Amanda Anisimova, Coco Gauff en Jasmine Paolini almal na die volgende ronde deurgedring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….