Nuus 11:00
BULLETIN 21 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA verwerp enige poging om Menseregtedag af te water of te hernoem
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge daag Paul Mashatile uit om die sukses van swart ekonomiese bemagtiging te bewys
# En rugby: Ses drieë kry die Bulle weer op koers
# Terwyl die land Menseregtedag herdenk, verwerp die Forum for South Africa enige poging, hetsy doelbewus of subtiel, om die geskiedenis af te water of te hernoem en Suid-Afrikaners te vervreem van die betekenis van die dag. Die FOSA-leier, Tebogo Mashilimpane, sê hierdie dag is gewortel in die pynlike geskiedenis van die Sharpeville-slagting. Hy sê die verandering hou die risiko in om die ervarings en opofferings uit te wis, van diegene wat die hoogste prys betaal het:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge het adjunkpresident Paul Mashatile uitgedaag om bewyse te lewer dat breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging daarin geslaag het om werkloosheid te verminder, inkomste te verhoog of ekonomiese groei te ondersteun. Die organisasie sê ses maande na hul eerste versoek is daar nog geen bewyse gelewer nie. Hermann Pretorius van die instituut voer aan dat rasgebaseerde beleide misluk het. Pretorius stel alternatiewe wette voor om benadeeldes direk te teiken en die armes te bemagtig.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra strenger maatreëls om motoriste te beskerm. Dit volg nadat ‘n spykervoorval op die N4 ooswaarts tussen Silverlakes en Donkerhoek, oos van Pretoria, in Gauteng, verskeie voertuie met papbande gelaat het. Terwyl die vakbond verhoogde polisiesigbaarheid waardeer, dring hy aan op strenger veiligheidsmaatreëls op snelweë. Phakamile Hlubi-Majola van MISA sê hierdie opportunistiese misdade teiken bestuurders wat snags alleen op die paaie is, en plaas werkers en hul gesinne in gevaar:
# Die Geografiese Namekomitee van die Oos-Kaapse Provinsiale Regering is trots op sy werk om die naam van Oos-Londen wat hy as ‘n aanstootlik beskou, na KuGompo-stad te verander. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die hernoeming verlede maand goedgekeur as deel van ‘n breër, maar dikwels omstrede poging, om dorpe te hernoem vir erfenis- en transformasiedoeleindes. Die naam KuGompo verwys na die geluid van golwe wat teen Gompo-rots breek. Die komitee se voorsitter, Noma-Afrika Maxongo, sê die proses om te hernoem was lank en moeilik en het in 2019 begin.
# Die kroonprinses van Noorweë, Mette-Marit het op nasionale TV gesê sy wens sy het nooit die oorlede Amerikaanse seksoortreder, Jeffrey Epstein, ontmoet nie. In ‘n 20-minute-onderhoud het sy gesê sy moet verantwoordelikheid aanvaar dat sy deur Epstein gemanipuleer en mislei is. Noorweërs het sewe weke gelede ontdek daar was tussen 2011 en 2014 honderde e-posse tussen die kroonprinses en Epstein, en sy het in sy huis in Florida gebly het toe hy nie daar was nie. Haar besluit om in die openbaar te praat, kom na omvattende ondersoeke en druk om haarself te verduidelik, insluitend deur die eerste minister van Noorweë.
# En rugby: Die Bulle het hul Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog weer op koers gekry met ‘n oortuigende 40-7-oorwinning oor Cardiff op Loftus Versfeld gisteraand, nadat hulle met rustyd met 33-7 voorgeloop het. Dit was nie altyd mooi spel nie, maar met ses drieë en vyf punte op die punteleer het die Bulle weer momentum na die loesing deur die Stormers. Die Bulle se drieë is gedruk deur Marcell Coetzee, Johan Grobbelaar, David Kriel, Embrose Papier, Elrigh Louw en Ruan Vermaak. Handre Pollard het vier verdoel en David Kriel een. Cardiff se enkele drie is gedruk deur Harry Millard en deur Callum Sheedy verdoel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….