Nuus 16:00
BULLETIN 20 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Johannesburg Metro-polisiedepartement skors ‘n beampte te midde van die ondersoek na die Molefe-voorval
# Inenting teen bek-en-klouseer tel beduidend spoed op in Noordwes
# En tennis: Joao Fonseca bespreek sy plek teen Carlos Alcaraz in Miami
# Die Johannesburg Metro-polisiedepartement gaan aanklagte indien teen ‘n beampte, Johannes Makgatle, vir die misbruik van staatshulpbronne vir die beweerde misdaadbaas Katiso “KT” Molefe. Volgens ‘n interne ondersoek het Makgatle voertuigbeleid oortree nadat hy met ‘n departementele motor na Molefe se huis gery het terwyl hy siek was. Hy het na bewering ondersoekbeamptes ontwrig, nie die voorvalboek voltooi nie, en ook nie magtiging van sy toesighouers verkry nie. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla sê Makgatle is geskors hangende formele aanklagte:
# Leiers in die ingenieursbedryf het gewaarsku verouderde infrastruktuur en ‘n instandhoudingsagterstand van 30-miljard-rand bedreig ekonomiese groei. Kenners het tydens die Raadgewende Ingenieurs van Suid-Afrika se Infrastruktuur-indaba in Durban, KwaZulu-Natal, ‘n tekort aan gekwalifiseerde ingenieurs en lae beleggingsvlakke benadruk. Die uitvoerende hoof van CESA, Chris Campbell, het die behoefte aan samewerking en sterk beleidsrigting beklemtoon. Hy sê infrastruktuur is die sleutel tot werkskepping, maar dringende hervorming, belegging en verbeterde bestuur word vereis om inklusiwiteit te bevorder.
# Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes werk onverpoosd in die stryd teen bek-en-klouseer. Die direkteur van Veeartsenykundige Dienste, Langa Majyibi, sê die inentingsveldtog het in alle plaaslike munisipaliteite momentum gekry, ‘n beslissende stap in die beskerming van die provinsie se vee- en landbou-ekonomie. Majyibi versoek boere om te verseker hul diere het permanente identifikasienommers om inenting en opsporing te bespoedig:
# Tennis: Die Brasiliaanse tiener Joao Fonseca sê hy sien uit daarna om vir die eerste keer teen Carlos Alcaraz te speel. Hy maak gereed vir sy kragmeting teen die wêreld-nommer -een by die Miami Ope, ‘n week nadat hy die tweede gekeurde Jannik Sinner hard laat werk het by Indian Wells. Die 19-jarige het Fabian Marozsan gister in die eerste ronde in Miami geklop. Fonseca lok duisende ondersteuners by geleenthede, met ‘n atmosfeer wat herinner aan sokkerwedstryde. Sy aanhangers sien nou daarna uit om te sien hoe hy in sy eerste ontmoeting met die Spanjaard gaan vaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-449-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-680-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, beskuldig Marokko dat hulle die 2026 Vroue Afrika-nasiebeker gyselaar hou te midde van onsekerheid oor die aanbieding daarvan. Die toernooi, wat aanvanklik vir 5 Maart geskeduleer was, is kort voor die afskop tot Dinsdag uitgestel weens logistieke uitdagings. McKenzie het in Steyn City die ongelyke behandeling van vrouesokker gekritiseer, en gesê sulke vertragings sal nie manstoernooie beïnvloed nie. Hy het Suid-Afrika se gereedheid om aan te bied, herbevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….