Nuus 15:00
BULLETIN 20 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige SABC-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng betwis ‘n eis van 18-miljoen-rand in die hof
# Ian Cameron waarsku oor swak gekoördineerde Suid Afrikaanse National Weermag operasies
# En rugby: Die VRK-spanne is in ‘n wedloop om onder die eerste agt te eindig vir ‘n uitspeelplek
# Voormalige SABC-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng het die Hooggeregshof in Johannesburg genader om ‘n SABC eis van 18-miljoen-rand te betwis. Dit hou verband met ‘n beweerde onregmatige suksesfooi vir ‘n MultiChoice-ooreenkoms. Motsoeneng het aangevoer die betaling was regmatig. Die Spesiale Ondersoekeenheid het voorheen beslis dit is onreëlmatig terwyl howe, insluitend die Konstitusionele Hof, Motsoeneng se appèlle van die hand gewys het. Die Spesiale Ondersoekeenheid het meer as ses-miljoen-rand verhaal van Motsoeneng se pensioenvoordelele, met voormalige raadslede wat ook aanspreeklik gehou word.
# Die voorsitter van die Parlement se polisie-portefeuljekomitee, Ian Cameron, kritiseer die ontplooiing van die Weermag wat op 12 Februarie aangekondig en amptelik op 13 Maart in die parlement ter tafel gelê is. Cameron sê dit was nie goed gekoördineerd nie. Soldate wat toegeslaan het op ‘n onwettige myn in Randfontein het twee uur lank gewag vir polisie-ondersteuning. Cameron sê doeltreffende koördinering tussen die weermag en polisie-eenhede in sommige operasies het tekort geskiet. Hy benadruk voorts veiligheidskwessies, insluitend die onlangse moorde op kinders op die Kaapse Vlakte.
# Die DA leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê ondanks demokrasie is baie Suid-Afrikaners steeds nie werklik vry nie. Msimanga het tydens die aankondiging van sy burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni op die vooraand van Menseregtedag, gesê werkloosheid, misdaad en swak dienste skend steeds basiese menseregte. Hy het mense gevra om te besin oor die Sharpeville-slagting, en gewaarsku die opofferings wat daar gemaak is kan tevergeefs wees as lewensomstandighede nie verbeter nie:
# Rugby: Dit is maak of breek vir die spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap die naweek, wanneer hulle gaan uitspeel vir ‘n plek in die top-agt. Die Bulle pak Cardiff vanaand op Loftus en Ulster is die gasheer vir Connacht, terwyl Scarlets teen Zebre te staan kom. Saterdag speel die Leeus op hulle tuisveld teen Edinburgh; die Haaie pak Munster en die voorlopers Glasgow Warriors, wat so te sê van ‘n uitspeelplek verseker is, kom teen Leinster te staan. Benetton pak die Ospreys en Sondag is die Stormers gasheer vir die Dragons in Kaapstad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-381-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-664-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die premier van Limpopo, Phophi Ramathuba, sê die regering bou ‘n nuwe huis vir die Sithole-gesin met die Siamese tweeling wat onlangs suksesvol geskei is. Ramathuba het in die Mankweng-hospitaal bevestig die babas herstel goed, met een wat al self asemhaal. Ramathuba sê die huis sal voltooi wees voor hul ontslaan word, met ondersteuning van vennote in die privaat sektor. Sy voeg by die provinsie versterk ook sy gesondheidsorginfrastruktuur en sal verseker die kinders ontvang behoorlike vroeë kinderontwikkelings-ondersteuning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….