Nuus 11:00
BULLETIN 20 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra alle partye in die Iran-konflik om vyandighede te staak
# MISA waarsku die stygende brandstofpryse en Eskom-tariewe kan inflasie opstoot
# En krieket: Die Nieu-Seeland-vroue klop die Protea-vroue om voor te loop in die T20-reeks
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê volhoubare vrede in die Midde-Ooste kan slegs bereik word deur oplossings wat klem plaas op dialoog en respek vir die Iranse volk. Meer as duisend mense is in die Israels-Amerikaanse aanvalle dood wat verlede maand begin het. Dit sluit in minstens 850 slagoffers in Libanon en 13 in Israel. Dertien Amerikaanse soldate is ook dood. Lamola sê ‘n hernieude verbintenis tot diplomasie is nou nodig:
Intussen het leiers van Brittanje, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Japan en Kanada Iran veroordeel vir die sluiting van die Straat van Hormoes. Die seestraat, waardeur 20-persent van die wêreld se olie verskeep word, is feitlik gesluit sedert die oorlog teen Iran uitgebreek het. Die leiers van die sewe lande sê in ‘n gesamentlike verklaring Iran se inmenging by internasionale skeepvaart en die ontwrigting van energievoorsieningskettings hou ‘n bedreiging in vir internasionale vrede en veiligheid. Hulle sê hulle is bereid om by te dra tot gepaste pogings om die seestraat te heropen.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê hoewel inflasie tot drie-persent gedaal het, bly daar kommer oor stygende koste in die komende maande. Volgens MISA kan verwagte brandstofprysstygings en ‘n Eskom-elektrisiteitstariefverhoging volgende maand inflasie hoër stoot, wat verdere druk op huishoudings sal plaas. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond waarsku hoër lewenskoste sal beide werkers en werkloses beïnvloed, veral voor die winter en die reisperiode gedurende die Paasfees:
# AfriForum doen ‘n beroep op die Departement van Vervoer om die proses te bespoedig waarvolgens die geldigheid van rybewyse tot agt jaar verleng word. Dit volg nadat die minister van Vervoer, Barbara Creecy, bevestig het ‘n konsepregulasie word binnekort vir openbare kommentaar oopgestel. Louis Boshoff van AfriForum waarsku die vertragings laat bevoegde bestuurders met lisensies wat verval en belowe om voort te gaan om druk op die Departement te plaas om die lisensieverlenging vinnig te finaliseer:
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan het vandag hulle Suid-Afrikaanse mededingers met ses paaltjies verslaan in die derde T20 in Auckland en loop nou met 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Kaptein Laura Wolvaardt het die beste gevaar met 37 van 39 balle en die Protea-vroue het 149 vir sewe in hul 20 boulbeurte aangeteken. Daarna het Sophie Devine met die kolf beïndruk en 55 van 38 balle behaal. Die White Ferns het die teiken in 18 boulbeurte en vier balle bereik. Die vierde T20 vind Sondag in Wellington plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-289-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-679-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….