Nuus 09:00
BULLETIN 20 Maart 9 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê die Postbank kan help om finansiële insluiting te versterk
# Byna tweeduisend Toyota Land Cruiser LC300-voertuie word teruggeroep
# En die Trump-administrasie wil meer as 3,3-duisend-miljard-rand vir die oorlog in Iran hê
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë sê ‘n goed toegeruste Postbank kan ‘n hervormende rol speel in uitgebreide finansiële insluiting en goedkoper bankkoste. Die bank het ‘n lisensie van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor bekom om as ‘n finansiëlediensteverskaffer bedryf te word. Die komiteevoorsitter, Khusela Sangoni-Diko, sê hierdie stap weerspieël die regerings se volgehoue pogings om bestuur te herbou, nakoming te verbeter en openbare vertroue in die instelling te herstel. Sy het beklemtoon dat baie nog gedoen moet word voordat Postbank gereed sal wees om in bedryf te tree.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het een-duisend-846 Toyota Land Cruiser LC300-voertuie wat tussen Januarie 2025 en Januarie 2026 verkoop is, weens probleme met die outomatiese ratkas onttrek. Die LC300-voertuie het ‘n tienspoed- outomatiese ratkas wat liniêre solenoïede gebruik om ratwisseling te beheer. Volgens Prudence Moilwa van die kommissie sê die verskaffer indien ʼn solenoïde onder sekere bestuurstoestande wanfunksioneer, sal die ratkas se elektroniese en enjin-beheereenhede dalk nie die probleem optel nie wat sal veroorsaak dat revolusies in sekere ratte opgejaag word:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die provinsie se Ekonomiese Groei- en Ontwikkelingsplan 2030 is ‘n strategiese uiteensetting van stappe wat saamgestel is om ekonomiese groei te versnel, beleggings te lok en werkskepping te bevorder. Hy sê dit kan die provinsie se groeikoers laat verdubbel en volgens die vooruitskatting die bruto binnelandse produk met 3,6- tot 5,4-persent laat styg. Lesufi sê die plan moet herbevestig dat Gauteng wêreldwyd ‘n mededingende, geïntegreerde en volhoubare ekonomiese spilpunt is:
# Die Pentagon oorweeg om die Withuis te vra om ʼn versoek aan die Kongres goed te keur vir meer as 3,3-duisend-miljard-rand se bykomende befondsing vir die oorlog in Iran. Volgens die BBC voer sommige Amerikaanse wetgewers aan president Donald Trump se besluit om Teheran aan te val sonder om die Kongres te raadpleeg, maak dit nou moeilik om ondersteuning daarvoor te kry. Trump sê hulle moet ammunisie en ander voorrade aanvul wat uitgeput is weens die konflik en hulp in die verlede aan ander lande:
# Sokker: Fifa het nuwe grensverskuiwende reëls aanvaar wat vereis dat spanne wat aan sy vrouetoernooie deelneem, ‘n vroulike hoof- of hulpafrigter moet hê. Spanne moet ook een vrou in hul mediese span hê. Die reëls tree vanjaar in werking met die Vrouewêreldbeker- en Vrouekampioenskapsbeker-kompetisies vir onder 17’s en onder 20’s. Die hoofbeampte van Fifa, Jill Ellis, sê die nuwe reëls dui op ‘n belangrike belegging in die huidige en toekomstige generasie vroulike afrigters.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-853-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-723-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….