Nuus 07:00
BULLETIN 20 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane sê Suid-Afrikaners sal die ekonomiese gevolge van die Midde-Oosterse konflik voel
# Donald Trump sê hy het ‘n skerper styging in oliepryse verwag
# En rugby: Die Haaie-afrigter maak agt veranderinge vir die botsing teen Munster
# Build One South Africa sê die konflik in die Midde-Ooste sal nie tot die streek beperk bly nie, maar deur energiemarkte, voorraadkettings en tot in Suid-Afrikaners se daaglikse lewens versprei. Die Parlement het gister op BOSA se versoek ‘n debat gehou oor die toenemende konflik in die Midde-Ooste en die gevolge wat dit vir Suid-Afrika inhou. BOSA-leier Mmusi Maimane sê Suid-Afrika is ʼn netto invoerder van ru-olie wat beteken plaaslike pryse is regstreeks gekoppel aan globale oliemarkte:
President Donald Trump sê intussen die ekonomiese uitwerking van die Verenigde State en Israel se aanvalle in Iran was tot dusver kleiner as wat hy verwag het. Dit is ten spyte van skerp stygings op wêreldwye energiemarkte, insluitend die van Brent-ruolie, terwyl die Straat van Hormoes, wat ʼn vyfde van die wêreld se olievervoer hanteer, byna onbegaanbaar is. Trump het in die Withuis tydens ʼn bilaterale vergadering met Japan se eerste minister, Sanae Takaichi, gesê hy het ʼn skerper styging in oliepryse verwag:
# Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, waarsku dat baie Suid-Afrikaners bereid is om vir niks te werk nie, omdat hulle niks het nie. Tydens News24 se On the Record 2026-beraad in Kaapstad het Kotzé beklemtoon landbou, hoewel dit slegs drie-persent van die bruto binnelandse produk uitmaak, se produksie het in 30 jaar verdubbel en is steeds noodsaaklik vir groei. Hy vra vir meer waterbronne, ‘n balans tussen plaaswinsgewendheid en volhoubaarheid, en die skep van ‘n ekonomie wat betekenisvolle geleenthede vir almal bied.
# Tshwane-burgemeester, Nasiphi Moya, het die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, op spesiale verlof geplaas, hangende ʼn ondersoek na bewerings voor die Madlanga-ondersoekkommissie. Bewyse toon Morodi het bod-besonderhede vir grondverhuringstenders met Fannie Nkosi, ʼn amptenaar van die Gautengse Eenheid vir Georganiseerde Misdaad gedeel. Nkosi het op daardie stadium probeer om ʼn vullisbestuurtender te kry vir ʼn maatskappy wat bande met sy broer het. Moya se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê hulle beskou sulke sake in ʼn ernstige lig:
# Die Hooggeregshof in Durban het ‘n dringende aansoek deur sakeman Calvin Mathibeli van die hand gewys om ‘n SAPD-vuurwapeninspeksie by sy Durban-Noord-maatskappy te stop. Die hof het beslis die saak is nie dringend nie en dit met koste van die hand gewys. Dit laat die SAPD toe om voort te gaan onder Operasie Buyisa. Mathibeli beweer voortdurende teistering deur die polisie en het ‘n siviele eis van 15-miljoen-rand teen die owerhede in KwaZulu-Natal ingedien. Mathibeli beweer ook die kommissaris van Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, is deur die sakeman se mededingers gekaap.
# Rugby: Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, het agt veranderinge aangebring aan die opdrafspan vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Munster in Durban. Siya Kolisi keer terug vir sy 50ste wedstryd vir die klub. Daar is ʼn nuwe voorry met Phatu Ganyane, Fez Mbatha en Hanro Jacobs wat beurte maak met Ox Nché, Eduan Swart en Vincent Koch. In die agterlyn begin Grant Williams op skrumskakel terwyl Ethan Hooker terugkeer om saam met kaptein André Esterhuizen die middelveld te dek. Yaw Penxe is in die vleuelposisie en die nuwe Blitsbok, Luan Giliomee, is heelagter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-425-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-660-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….