Nuus 17:00
BULLETIN 19 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa vra vir betekenisvolle ekonomiese transformasie
# ActionSA ondersoek bewerings by Madlanga-kommissie oor tenders wat met Fannie Nkosi verbind word
# En, MISA rig waarskuwing oor jongmense wat brandblusser-chemikalieë inasem op wydverspreide video’s
# President Cyril Ramaphosa sê transformasie moet verder as retoriek gaan en moet ‘n doelbewuste poging word om Suid-Afrika se ekonomie en samelewing te herstruktureer. Ramaphosa het by die News24 On the Record beraad in Kaapstad onder die tema, vyf-miljoen werksgeleenthede in tien jaar, beklemtoon die uitbreiding van eienaarskap en deelname is die sleutel om werkloosheid aan te spreek. Hy het bygevoeg betekenisvolle verandering mag opofferings vereis, maar dit is noodsaaklik om ekonomiese geleenthede uit te brei en inklusiewe groei vir alle burgers te verseker:
# ActionSA het kommer uitgespreek oor bewerings by die Madlanga-kommissie rondom die SAPD-beampte Fannie Nkosi, die hoof finansiële beampte van Tshwane, Gareth Mnisi, en die burgemeesterskomiteelid van Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi. Dit hou verband met beweerde WhatsApp-boodskappe oor die omstrede sekuriteitstender van die Tshwane Metropolisie. Die woordvoerder van ActionSA, Matthew George sê ‘n interne ondersoek na hierdie bewerings is aan die gang en daar sal beslissend opgetree word indien oortredings bevestig word:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging waarsku teen ‘n gevaarlike neiging onder Gautengse leerders, bekend as ‘chuffing’, waar kinders die chemikalieë uit brandblussers inasem. Die vereniging sê dit hou ernstige gesondheidsgevare in, insluitend stuiptrekkings, longontsteking en selfs die dood. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging doen ‘n beroep op die Departement van Basiese Onderwys en die Stad Johannesburg se Nooddienste om bewusmakingsveldtogte dringend te versterk:
# Israel het vandag die Rafah-oorgang met Egipte na byna drie weke heropen om sommige gewonde Palestyne toe te laat om behandeling te ontvang. Dit volg nadat mediese personeel in Gaza gesê het vier mense is in die enklawe dood na Israeliese aanvalle. Die Palestynse Rooi Halfmaan sê slegs agt Palestyne wat tydens die twee jaar lange oorlog in Israeliese aanvalle beseer is, en 17 van hul familielede, sal vir mediese behandeling in Egipte toegelaat word nadat die oorgang heropen is. Dit is onduidelik hoeveel vanuit Egipte terug na Gaza toegelaat sou word.
# Sokker: Die veteraan Themba Zwane en vleuels Bongokuhle Hlongwane en Thepelo Maseko is teruggeroep vir Bafana-Bafana se twee internasionale vriendskaplike tuiswedstryde later die maand teen Panama. Die afrigter Hugo Broos het verskeie veranderings aan die span aangebring, sommige gedwonge weens beserings, na hy erken het hy was uiters teleurgesteld in die vertoning van die span by die 2025 Afrikabekerkompetisie. Bafana speel die eerste wedstryd op 27 Maart teen Panama in Durban en die tweede een vier dae later in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-240-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….