Nuus 16:00
BULLETIN 19 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra ekonomiese hervorming vir werkskepping
# Tax Justice SA sê korrupsie by Doeane is ‘n regstreekse bedreiging vir die ekonomie
# En sokker: Bafana Bafana roep drie spelers terug vir die vriendskaplike wedstryde teen Panama
# President Cyril Ramaphosa het gevra vir sterker ekonomiese samewerking om vyf-miljoen werksgeleenthede oor die volgende dekade te skep. Ramaphosa het aan News24 On the Record gesê om werkloosheid aan te pak moet Suid-Afrika se geskiedkundige ongelykhede en ekonomiese uitsluiting verstaan word. Hy het beklemtoon langtermynoplossings is nodig om strukturele uitdagings aan te pak en ‘n meer inklusiewe en volhoubare ekonomie te bou:
# Tax Justice South Africa sê die onwettige ekonomie gedy reeds te lank omdat die gevaar om uitgevang en gestraf te word, uiters gering is. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het hierdie week soek-en-beslagleggingsoperasies uitgevoer op amptenare en hul medepligtiges wat beskuldig word dat hulle doeane-inspeksies manipuleer in ruil vir omkoopgeld. Die skema word verbind met onverklaarde belasbare inkomste van meer as 45-miljoen-rand. Tax Justice SA se woordvoerder, Yusuf Abramjee, sê deursoekings en beslagleggings is ‘n belangrike eerste stap, maar inwoners moet sien oortreders word gearresteer:
# Die DA in Gauteng het premier Panyaza Lesufi versoek om dissiplinêre stappe te versnel teen die geskorste hoof van die Departement van Gesondheid, Lesiba Malotana, oor ‘n beweerde verband met onreëlmatige kontrakte vir die Tembisa-hospitaal. Jack Bloom van die DA sê bevindings deur die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, dui op ernstige kommer oor korrupsie en hy vra verantwoordbaarheid en dringende hervormings in die gesondheidstelsel:
# Terwyl die Departement van Minerale en Petroleumbronne sê Suid-Afrika het genoeg brandstof ten spyte van die konflik in Iran, waarsku die Vryheidsfront Plus dat briewe van verskaffers toon vulstasies sukkel om voorraad te kry. Wynand Boshoff van die party sê sommige vulstasies het geen voorrraad nie, wat vrese vir tekorte laat ontstaan. Hy sê kenners meen vertraagde invoere en die moontlike opgaar van voorraad voor volgende maand se brandstofprysverhoging, kan die situasie en die ekonomie vererger:
# Sokker: Die veteraan Themba Zwane en vleuels Bongokuhle Hlongwane en Thepelo Maseko is teruggeroep vir Bafana-Bafana se twee internasionale vriendskaplike tuiswedstryde later die maand teen Panama. Die afrigter Hugo Broos het verskeie veranderings aan die span aangebring, sommige gedwonge weens beserings, na hy erken het hy was uiters teleurgesteld in die vertoning van die span by die 2025 Afrikabekerkompetisie. Bafana speel die eerste wedstryd op 27 Maart teen Panama in Durban en die tweede een vier dae later in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….