Nuus 14:00
BULLETIN 19 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie waarsku Fannie Nkosi oor beskerming teen die erkenning van skuld
# Die olieprys styg tot sy hoogste vlak sedert die begin van die oorlog
# En rugby: Hanekom is terug in die voorspelerspak vir die Bulle in hul VRK-botsing teen Cardiff
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Matthew Chaskalson, het die SAPD-beampte Fannie Nkosi herinner dat sy getuienis nie in strafregtelike verhore gebruik kan word nie. Die kommissie ondersoek sy bankrekords en waarsku hy kan vrae gevra word waarvan sy antwoorde as skulderkenning gesien kan word. Hy word beskerm in strafregtelike sake maar die kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, sê dit is nie van toepassing op dissiplinêre optrede deur sy werkgewer nie. ‘n Hoftolk is ook aan Nkosi toegeken in die verrigtinge:
# Die Wes-Kaapse polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag voer gesamentlike misdaadbestrydingsoefeninge uit voor die amptelike troepe-ontplooiing. Die oefeninge is daarop gemik om magte voor te berei vir gekoördineerde operasies teen geweldsmisdaad en bendes. Beamptes en soldate het deur hoëmisdaadgebiede beweeg, verkennings- en oefenklopjagte gedoen om kennis op te doen oor plaaslike brandpunte. Die SAPD-woordvoerder, Thembisile Patekile, sê die oefeninge vorm deel van ‘n landwye plan om wetstoepassing te versterk, gereedheid te verbeter en intelligensie-geleide ingrypings te verseker voor die amptelike SANW-ontplooiing.
# Die Nasionale Tesourie gaan 54-miljard-rand as aansporings vir metro’s belê wat voldoen aan prestasieteikens wat stadsrade goedgekeur het onder die nuwe Metro-handelsdienstehervorming. Direkteur-generaal vir Interregeringsverhoudinge, Ogalaletseng Gaarekwe, het beklemtoon die aansporings is vir munisipaliteite, nie individuele amptenare nie. Sy sê die program het ten doel om doeltreffende dienslewering, verantwoordbaarheid en verbeterde landwye bestuur van munisipaliteite te bevorder:
# Fossielbrandstofpryse hou aan styg, met olie wat vanoggend ‘n nuwe hoogtepunt bereik het sedert die begin van die oorlog in Iran. ‘n Vat Brent-ru-olie het vlugtig teen meer as 118-dollar-per vat verhandel, die hoogste sedert Junie 2022. Vroeër vanoggend het die prys van gas in Brittanje met 28-persent gestyg tot ‘n driejaar-hoogtepunt. Dit volg te midde van aanvalle op produksie-aanlegte, wat vrese oor voorraad verhoog terwyl olie-tenkskepe sukkel om deur die Iran-beheerde Seestraat van Hormoes te beweeg. ‘n Vyfde van die wêreld se olie- en gasvoorrade beweeg deur die strategies belangrike seestraat.
# Rugby: Die Bulle het die span aangekondig wat Vrydag in ‘n tuiswedstryd teen Cardiff te staan kom. Verskeie taktiese aanpassings is aangebring aan die span wat verlede week teen die Stormers gespeel het. Die veelsydige Cameron Hanekom maak sy terugkeer op die bank nadat hy nege maande weens ‘n besering afwesig was. Die begin-voorry sien ‘n verandering op vaskop, met Francois Klopper wat vir Wilco Louw instaan. Cobus Wiese skuif van die bank en begin as slot om Ruan Nortje te ondersteun, terwyl Ruan Vermaak na die plaasvervangers skuif.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-192-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-694-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….