Nuus 12:00
BULLETIN 19 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE vra president Ramaphosa om Senzo Mchunu af te dank oor die ontbinding van die taakspan
# ACSA en Mangaung werk saam om ontwikkeling by die lughawe te bevorder
# En gholf: Rory McIlroy is gereed om ná sy rugbesering sy Meesters-titel te verdedig
# COPE vra president Cyril Ramaphosa om die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, onmiddellik af te dank. Dit volg ná die president se skriftelike voorlegging aan die Parlement se Ad Hoc-komitee, waarin hy verklaar hy het nie die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde goedgekeur nie en is nie geraadpleeg daaroor nie. COPE se waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê Mchunu moet aanspreeklik gehou word vir die drastiese besluit:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en die Mangaung-munisipaliteit het ‘n verstandhoudingsooreenkoms onderteken om ontwikkeling by die Bram Fischer Internasionale Lughawe te bevorder. Die vennootskap het ten doel om die ekonomie te laat groei en toerisme, infrastruktuur en belegging in die streek te bevorder. Planne sluit in, die uitbreiding van logistiek, lugvaartbedrywe en handelsgeleenthede, sowel as om die lughawe as ‘n belangrike ekonomiese spilpunt te vestig, terwyl werkskepping en langtermynontwikkeling in die Vrystaat ondersteun word.
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy gaan aan die LUR vir Plaaslike Regering, Anton Bredell, skryf en dringende bystand vra om die mislukkings met die instandhouding en werking van waterpompe in Knysna aan te spreek. Levael Davis van die party sê hierdie mislukkings, wat deur die ANC-geleide munisipaliteit veroorsaak is, ondermyn die dorp se watersekerheid. Hy sê toegang tot water is ‘n fundamentele basiese behoefte:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het gedreig om die South Pars-gasaanleg in Iran heeltemal op te blaas as Teheran voortgaan met sy aanvalle op Katar. Dit volg na Iran Ras Laffan in Katar aangeval het, waar die wêreld se grootste vloeibare aardgasverwerkingsaanleg is. Die aanval was uit vergelding vir Israel se aanval op die South Pars-gasaanleg. Trump het op Truth Social gesê Amerika en Katar het nie geweet van Israel se aanval nie. Hy voeg by Iran se vergeldingsaanvalle op Ras Laffan in Katar is onregverdig en onbillik.
# Gholf: Die 36-jarige Rory McIlroy van Noord-Ierland sê hy is tevrede met sy herstel na sy rugbesering en hy sien uit om oor drie weke sy Meesters-titel as verdedigende kampioen te verdedig. Hy het by verlede jaar se Meesters sy vyfde major-titel gebuit en ʼn loopbaan-Grand Slam voltooi. Slegs Tiger Woods, Jack Nicklaus en Nick Faldo kon die Meesters in agtereenvolgende jare wen. McIlroy sê hy is opgewonde om na Augusta terug te keer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-244-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-714-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….