Nuus 11:00
BULLETIN 19 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Petroleum Hulpbronne waarsku plaaslike brandstofpryse gaan styg te midde van konflik in Midde Ooste
# Vusimusi “Cat” Matlala vra ‘n verhoor apart van sy medebeskuldigdes
# En sokker: Beheerliggaam-president ondersteun die appèlraad se uitspraak oor die Afrikabeker-eindstryd
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê volgehoue stygings in internasionale oliepryse en wisselvallige wisselkoerse gaan in die komende maande waarskynlik lei tot hoër plaaslike brandstofpryse. Toenemende spanning in die Midde-Ooste en druk op belangrike seeroetes soos die Straat van Hormoes laat ru-oliepryse styg. Die departement se woordvoerder, Lerato Ntsoko, sê rolspelers in die bedryf sal na verwagting seker maak prysvasstellings-praktyke is regverdig, regverdigbaar en in volle ooreenstemming met wette op mededinging en verbruikersbeskerming:
Intussen doen AfriForum ‘n beroep op motoriste om vooruit te beplan te midde van berigte van moontlike brandstoftekorte by sommige vulstasies. Volgens die organisasie kan die konflik voorsieningskettings beïnvloed, met sommige vulstasies wat reeds beperkte voorraad aanmeld, veral met diesel. Jacques Broodryk van AfriForum sê dit is nie ‘n nasionale krisis nie, maar tekorte kan ongerief en veiligheidsrisiko’s veroorsaak:
# Tenderpreneur Vusimusi “Cat” Matlala het die Hooggeregshof in Johannesburg versoek vir ’n dringende verhoor afsonderlik van sy medebeskuldigdes. Matlala en vier ander, insluitend sy vrou, Tsakane, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, geldwassery en regsverydeling. Die aanklagte hou verband met drie beweerde sluipmoordpogings, insluitend op sy voormalige lewensmaat, Tebogo Thobejane. Matlala se prokureur, Annelene van den Heever, sê hulle sal die hoof van die hof nader om die saak te bespoedig.
# Sokker: Die president van CAF, Patrice Motsepe, het die appèlraad se uitspraak oor die 2026 Afrikabeker-eindstryd tussen Marokko en Senegal ondersteun. Die Appèlraad, ‘n onafhanklike CAF-regsliggaam, het Senegal se titel van hulle gestroop omdat die span van die veld geloop het uit protes toe die gasheerland Marokko in bykomende tyd ‘n strafdoel gekry het. CAF het beslis Senegal het die wedstryd prysgegee en het die uitslag as 3-0 in Marokko se guns bepaal. Motsepe het gevra dat die instelling se besluite eerbiedig word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-550-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-766-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige Suid-Afrikaanse diplomaat en senior amptenaar van die Verenigde Nasies, Nicholas Haysom, is op 73 jaar in New York dood. Haysom wat ook “Fink” genoem is, was van 1994 tot 1999 wyle oudpresident Nelson Mandela se hoof regs- en grondwetlike raadgewer. Sy laaste amptelike rol was dié van die VN sekretaris-generaal se spesiale gesant vir Suid-Soedan. Die VN-sekretaris-generaal, António Guterres, het hulde gebring aan Haysom, en hom beskryf as ‘n onvermoeide vredemaker en onwrikbare voorstander van die organisasie se waardes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….