Nuus 07:00
BULLETIN 19 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC se People’s March is ‘n herbevestiging van Suid-Afrika se werklike waardes
# Die MK-party bevestig Hlophe se terugkeer tot partyleierskap
# En rugby: Die Suidelike Halfrond se o.20-kampioenskappe keer terug na Gqeberha
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die komende People’s March is ‘n herbevestiging van die ware waardes van Suid-Afrika se demokrasie, ʼn verwerping van verdeling en waninligting, en ʼn oproep aan alle landsburgers om te verenig. Die optog word Saterdag op Menseregtedag in Johannesburg gelei deur die ANC en sy alliansievennote, asook sakeondernemings, arbeid, geloofsorganisasies en burgerlike bewegings. Mbalula sê die optog is ʼn uitdrukking van die kollektiewe eis vir versnelde en inklusiewe ekonomiese hervorming:
# Die MK-party het John Hlophe as sy eerste adjunkpresident en parlementêre partyleier heraangestel. Die voormalige regter van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap is in November geskors na interne geskille. Na ‘n onafhanklike regsoorsig en besprekings met partyleier Jacob Zuma, is Hlophe egter vrygespreek om onmiddellik terug te keer. Nhlamulo Ndhlela het die waarnemende parlementêre leier Des Van Rooyen bedank vir sy diens gedurende die interim-tydperk.
# Die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, het die Ingonyama Trust se raad ontbind nadat talle raadslede voor die verstryking van hul kontrakte bedank het. Dit het daartoe gelei dat slegs vier raadslede, insluitend koning Misuzulu Zulu, oorgebly het. Nyhontso sê die huidige omstandighede het ʼn situasie geskep wat nie volhoubaar is vir die trust se doeltreffende administrasie nie. Hy sê ʼn administrateur sal aangewys word om toesig te hou oor die trust se daaglikse bedrywighede.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het die regsfirma KRM Incorporated aangestel om ʼn onafhanklike ondersoek te doen na die omstandighede rondom die dood van ʼn graad 5-leerder van die Reagile Primary School in Tembisa. Die 10-jarige Milton Neo Mokgoatsane is verlede maand dood nadat ʼn sokkerdoelpaal tydens pouse by die skool op hom geval het. KRM Incorporated se direkteur, Katlego Ralikhuvhana, sê die ondersoek moet duidelike bevindings en aanbevelings insluit wat onregmatige optrede en moontlike tugstappe betref:
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê hulle beraadslaag oor maniere om die Straat van Hormoes veilig te heropen. Die seestraat waardeur 20-persent van die wêreld se olie vervoer word, is so te sê gesluit sedert Amerika en Israel se oorlog teen Iran begin het. Dit laat vrese ontstaan oor energievoorrade wêreldwyd. President Donald Trump van Amerika het vroeër die week talle NAVO-lede gekritiseer nadat hulle sy versoek dat hulle oorlogskepe na die seestraat stuur om olietenkskepe geleide te doen, geweier het. Rutte beklemtoon die belangrikheid van hierdie waterweg:
# Rugby: SANZAAR se Onder 20 Rugbykampioenskap is aan die einde van April terug op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha waar die beste junior talent van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië sal kragte meet. In verlede jaar se toernooi het die Junior Bokke en Nieu-Seeland se onder-20’s in die eindstryd gespeel, met Suid-Afrika wat met die goud weggestap het. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê dit is ‘n prestasie vir SA Rugby en die Oos-Kaap om die toernooi vir ‘n tweede keer aan te bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-100-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-853-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….