Nuus 16:00
BULLETIN 18 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die bestuurder van Vanderbijlpark gaan aansoek doen om borgtog ná die noodlottige leerdervervoerongeluk
# Nhlanhla Mkhwanazi verduidelik die telefoonnommerfout in Cele se betalingsbewerings
# En rugby: Argentinië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 in Suid-Amerika aan te bied
# Die bestuurder in die Gautengse leerdervervoerongeluk waarin 14 kinders dood is, sal op die 31ste aansoek doen om borgtog in die Streekhof in Vanderbijlpark. Ayanda Dludla het weer in die plaaslike Landdroshof verskyn op 14 aanklagte van moord, drie van poging tot moord en een van bestuur sonder ‘n geldige permit. Sy voertuig het in Januarie teen ‘n vragmotor gebots terwyl hy die kinders skool toe vervoer het. Die 22-jarige het tydens sy vorige verskyning sy borgtogaansoek laat vaar.
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê ondersoeke toon die sakeman Vusimusi Matlala het nie geld aan die oudminister van Polisie, Bheki Cele, gestuur nie, maar aan ‘n derde party. Mkhwanazi het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig die verwarring het ontstaan weens ‘n fout in die data-ontleding van soortgelyke telefoonnommers. Hy beklemtoon die ondersoekbeamptes en Matlala het betalings aan die verkeerde nommer verbind en die verklaring is sedertdien reggestel:
# Die ACDP in Gauteng verwelkom die meer as twee-duisend soldate wat ontplooi is om die polisie te ondersteun. Die fokus is op brandpunte vir onwettige mynbou en bende-bedrywighede in die Vrystaat, Gauteng, Noordwes, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap. Chris Rohlssen van die ACDP sê die ontplooiing is ‘n uitstekende korttermynplan om gebiede wat deur bendes en onwettige mynbou geteister word, weer bestendig te kry:
# Die Stad Kaapstad sê die verwydering van indringerplante in wateropvanggebiede het sowat 19-miljard liter water per jaar ontsluit – ongeveer 51-miljoen liter per dag. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die verwydering van spesies soos denne, bloekom en wattel wat baie water nodig het, dra daartoe by om meer water in damme en riviere te laat vloei, veral gedurende lae reënvaltye:
# Rugby: Argentinië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 die eerste keer na Suid-Amerika te bring. Hy werk saam met die unies van Brasilië, Chile en Uruguay om hulle moontlik by die toernooi te betrek. Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, gaan die voorstel met die president van die Argentynse beheerliggaam, Gabriel Travaglini, bespreek. Travaglini sê hulle wil ‘n toernooi aanbied wat die passie en die vordering van rugby in die land weerspieël. Australië bied die toernooi volgende jaar aan en Amerika in 2031.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-901-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….