Nuus 14:00
BULLETIN 18 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee bedank die publiek terwyl die ondersoek afsluit
# Minister Macpherson kondig die verkoop van een-duisend-600 staatsgeboue aan
# En sokker: Ancelotti sê Neymar moet sy fiksheid bewys voor oorweging vir die Wêreldbekertoernooi
# Die voorsitter van die Parlement se ad hoc-komitee, Soviet Lekganyane, het die publiek bedank vir hul steun terwyl die komitee sy ondersoek na politieke inmenging in die strafregstelsel afsluit. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi het die bewerings gemaak. Lekganyane prys landsburgers, die media en parlementêre personeel vir hul betrokkenheid en toewyding en sê die werk is in die mense se belang en vir die integriteit van die Parlement:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die verkoop van een-duisend-600 staatsgeboue aangekondig as deel van die regering se plan om openbare bates te stroomlyn en inkomste te verdien. Die eiendomme sluit kantore, pakkamers en onderbenutte geriewe in. Macpherson sê die proses sal deursigtig wees, met voorkeur aan openbare-privaat vennootskappe en plaaslike beleggers. Hy gee die versekering noodsaaklike regeringsdienste sal nie geraak word nie en die opbrengs sal infrastruktuur- en diensleweringsverbeterings ondersteun.
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap sê die komende mosiedebat oor die naamsverandering van PW Botha-boulevard in George moet nie vitueel plaasvind nie. Die mosie sal formeel aan die raad voorgelê word tydens die gewone vergadering wat vir volgende Donderdag belê is. Chantelle Kyd van GOOD sê ‘n belangrike straat in die stad kan nie steeds die naam van ‘n apartheidsleier hê nie:
Nuus uit die buiteland:
# Iran het Tel Aviv getref met missiele gewapen met tros-plofkoppe uit wraak vir Israel se moord op sy sekerheidshoof, Ali Larjani. Israelse owerhede sê twee mense is dood in ‘n buurt naby die stad waar daar ook millitêre basisse is, wat Israelse ongevalle in die oorlog tot minstens 14 laat styg. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, het intussen aan staatsmedia gesê Amerika en Israel verstaan nie dat die Islamitiese Republiek ‘n kragtige politieke stelsel is wat nie staatmaak op net een persoon nie.
# Sokker: Brasilië se afrigter, Carlo Ancelotti, sê die sterspeler Neymar sal moet aanhou werk om ingesluit te word by die land se Wêreldbeker-groep. Hy het die 34-jarige uitgelaat vir vriendskaplike wedstryde teen Frankryk en Kroasië. Brasilië se voorste doelskieter van alle tye het in Oktober 2023 laas vir sy land gespeel toe hy ‘n ernstige besering opgedoen het, gevolg deur verskeie ander probleme. Ancelotti sê Neymar het die volgende drie maande tyd om sy fiksheid te bewys voor die Wêreldbekertoernooi in Junie in Kanada, Amerika en Mexiko begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-986-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….