Nuus 09:00
BULLETIN 18 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom Postbank se registrasie as gelisensieerde finansiëlediensteverskaffer
# Twee verdagtes sal vandag in die hof verskyn vir die Eldoradopark-skietery
# En die Iranse weermag belowe om die moord op sy sekuriteitshoof te wreek
# Die ANC het die registrasie van Postbank by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor as ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer verwelkom. Die lisensie magtig Postbank om finansiële advies- en tussengangerdienste oor finansiële produkte in ‘n gereguleerde raamwerk te verskaf. Die ANC sê dié stap verwesenlik die besluit op die 55ste Nasionale Konferensie om die skepping van ‘n volwaardige staatsbank te bespoedig. Die party sê Postbank se registrasie is nie die eindpunt van die reis nie, maar ‘n beslissende stap tot ‘n mensgesentreerde finansiële instelling wat klem plaas op waardigheid, inklusiwiteit en gedeelde voorspoed.
# Die MK-party sê die voorgestelde likwidasie van die Suid-Afrikaanse Poskantoor is kommerwekkend en sal verreikende gevolge hê wat nie geïgnoreer kan word nie. Die Poskantoor se sakereddingspraktisyns sê hulle gaan ‘n likwidasieproses begin weens ʼn gebrek aan befondsing om die staatsinstelling aan die gang te hou. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die likwidasie-besluit neem blykbaar nie die groter maatskaplik-ekonomiese gevolge vir die land in ag nie, en meer as vyf-duisend mense kan hul werk verloor:
# Twee verdagtes sal na verwagting vandag voor die Lenasia-landdroshof verskyn in verband met die skietery in Eldoradopark die afgelope naweek. Die polisie sê nagenoeg agt mans het Saterdagaand by ‘n kuiergeleentheid opgedaag en wild op die gaste geskiet. Twee mense is op die toneel dood en nog ses gewond. ‘n Woordvoerder van die polisie in Gauteng, Brenda Muridili, sê die verdagtes sal aangekla word van moord en poging tot moord:
# Iran se weermaghoof, Amir Hatami, dreig met ʼn wraakaanval nadat die sekuriteitshoof, Ali Larijani, in ʼn Israelse lugaanval dood is. As sekretaris van die Opperste Nasionale Veiligheidsraad was Larijani ʼn belangrike stem in besluitneming oor oorlog, diplomasie en nasionale veiligheid. Hy is die mees senior Iranse amptenaar wat sterf sedert die opperleier, Ali Khamenei, verlede maand dood is. Hatami sê op die regte tyd en plek kan Amerika en Israel ʼn sterk reaksie verwag.
# Sokker: Manchester City en Chelsea is uitgeskakel by die Kampioeneliga. Die 15-malige kampioene, Real Madrid, het City met 2-1 en in totaal met 5-1 geklop in die ronde van 16 se tweede deel. Die verdedigende kampioene, Paris St‑Germain, verslaan Chelsea met 3-0 en 8-2 in totaal. Arsenal haal die kwarteindronde toe hulle Bayer Leverkusen met 2-0 en 3-1 in totaal klop. Sporting maak ʼn geskiedkundige terugkeer nadat hulle met 3-0 teen Bodø/Glimt verloor, maar in die volgende wedstryd met 5-0 seëvier, met 5-3 in totaal, om hul plek in die kwarteindronde te bespreek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-487-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-991-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….