Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Mr Price het sy transaksie ter waarde van 9,6-miljard-rand om die Duitse NKD-kleregroep te koop, verdedig en sê dit bied wye Europese blootstelling. Die groep het sowat twee-duisend winkels regoor Europa en Oos-Europa.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Nasionale Vervolgingsgesag het ontken dat die prokureurs van oudminister Zizi Kodwa en die sakeman Jehan MacKay nie ingelig is dat die NVG die korrupsieklagte teen hulle weer gaan vervolg nie.
Dan skryf die webblad twee mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n swanger Shahieda Nathan in 2020. Die mans het haar huis binnegegaan en haar lukraak doodgeskiet.
En laastens word berig president Donald Trump het skerp kritiek gelewer op Navo-lande wat weier om op te tree om die Straat van Hormoes oop te stel vir olietenkskepe.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die watertenkwa-debakel in Tshwane het nou in ‘n politieke oorlog ontaard.
En berig daar bestaan kommer oor leerders wat brandblussers snuif aangesien dit na bewering ‘n bedwelmende uitwerking het.
# Sowetan:
Berig die polisie het gedros en die satellietstasie in Boikhutso, Lichtenburg verlate gelaat, en dis sedertdien geplunder. Die gemeenskap moet nou self misdaad bekamp en die polisiestasie is ‘n dwelmnes.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n nuwe verslag wat die lig gesien het, is die stryd vir Johannesburg tussen die DA en ActionSA. Die ANC se swak bestuur en dienslewering beteken hulle is nie faktor in die stad nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê nasionale gesondheidsversekering is nie opgeskort nie. Hy sê die regering wag net dat die Konstitusionele Hof ‘n beslissing maak oor openbare deelnamesessies voordat verdere wetsartikels geproklameer word.
En tweedens is daar nuus oor ‘n Toyota Hilux wat saam met sy eienaar ná 46 jaar se diens gaan aftree.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig kenners is van mening dit is nie slegs ‘n droogte in Nelson Mandelabaai nie, dis ‘n waterbestuurskrisis.
En tweedens skryf die koerant raadslede is besig om ondersoek in te stel na die stygende koste om die Nelson Mandela-stadion te onderhou.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n onderwyser van Northdale is op die skoolterrein deur ‘n leerder aangeval en gewurg.
En tweedens het die koerant ‘n eksklusiewe onderhoud met prinses Charlene van Monaco.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n voorgestelde in situ-logingsprojek deur Rusland wat in 2029 in Omaheke begin, sal na verwagting 600 werksgeleenthede skep en jaarlikse handel van 500-miljoen-rand genereer.
En tweedens skryf die koerant Puma Energy Namibia beweer hy is vroeër vandeesmaand onwettig by twee nasionale lughawens verwyder en verloor sowat 150-duisend-rand per dag.