Nuus 07:00
BULLETIN 18 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die hernuwing van die ANC moet meer sigbaar wees
# BOSA gaan regstappe doen om die regering te dwing om die waterkrisis op te los
# En die DA waarsku 138 Gautengse skole staar water- en kragonderbrekings in die gesig
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle moet met die grootste dringendheid, vasbeslotenheid en moed optree om die party se hernuwing sigbaarder en onomkeerbaar te maak. Hy het gister die nasionale kongres van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie in Mbombela, Mpumalanga, toegespreek. Mbalula sê ten spyte van die SAKP se besluit om in die komende munisipale verkiesing onafhanklik deel te neem, sal die drieparty-alliansie staande bly:
# Build One South Africa sê hy gaan regstappe doen om die regering te dwing om die waterkrisis in die land op te los. Adjunkleier Nobuntu Hlazo-Webster sê te veel landsburgers sukkel met watertekorte, en as die krane nie sonder water is nie, word dit ernstig ingeperk. Sy sê Johannesburg is die middelpunt van hierdie ontwikkelende menseregteskending en inwoners gaan weens infrastruktuurverval en wanbestuur gebuk onder voortslepende watertekorte. Hlazo-Webster voeg by die grootste probleem is dat niemand in die regering regstreeks aanspreeklik is vir die krisis nie.
# Die saak teen die man wat beskuldig word dat hy ‘n verklikker in die Departement van Binnelandse Sake, Marumo Eric Phenya, vermoor het, is tot 29 April uitgestel. Minenhle Mthembu, wat onlangs in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is nadat hy jare lank die polisie ontduik het, is borgtog geweier deur die Randburg-landdroshof in Gauteng weens kommer oor die veiligheid van Phenya se vrou en gesin, en die risiko dat hy die verhoor sal ontduik. Mthembu staan tereg op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg.
# Die DA sê 138 skole in Gauteng kan moontlik water- en elektrisiteitsonderbrekings ondervind as gevolg van onbetaalde munisipale rekeninge van altesaam sowat 82-miljoen-rand. Die party sê baie van hierdie skole het reeds te kampe met begrotingsbesnoeiings van tot 64-persent. Hy waarsku as dienste gesny word, dit onderrig en leer sal beïnvloed. Michael Waters van die DA doen ‘n beroep op die Onderwysdepartement van Gauteng om die krisis dringend aan te spreek om verdere ontwrigtings te voorkom:
# President Donald Trump van Amerika sê dis ‘n goeie ding dat die Nasionale Teenterrorisme-sentrum se direkteur, Joe Kent, bedank het. Kent sê in sy bedankingsbrief hy kan nie met ʼn skoon gewete die voortgesette oorlog in Iran ondersteun nie, omdat Teheran geen onmiddellike bedreiging vir die Verenigde State inhou nie. Hy is ʼn belangrike hoëprofiel-persoon in die Trump-administrasie wat die oorlog teen Iran openlik kritiseer. Trump sê hy het gedink Kent is ʼn goeie man maar swak wat sekuriteit betref:
# Krieket: Die kolwer Ollie Pope sê die waarneming dat Engeland “nie gepla was” om die Reeks om die As te wen nie, is sleg maar verstaanbaar. Engeland het die reeks teen Australië met 4-1 verloor te midde van kommer oor individue se prestasie en gedrag. Dit sluit in dronkenskap en onderkaptein Harry Brook se onderonsie met ʼn nagklub-uitsmyter tydens die besoek aan Nieu-Seeland voor die As-reeks. Pope hou vol hulle wou Australië verslaan, en moes meer mededingend gespeel het na die eerste toets in Perth.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-932-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-12-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….